settings icon
share icon
Vraag

Is Mormonisme ‘n kultus? Wat glo Mormone?

Antwoord


Die Mormoonse godsdiens (Mormonisme), wie se volgelinge bekend staan as Mormone en “Latter Day Saints (LDS)”, was minder as twee honderd jaar gelede gestig deur ‘n man met die naam Joseph Smith. Hy het beweer dat hy ‘n persoonlike besoek van God die Vader en Jesus Christus ontvang het wat aan hom gesê het dat alle kerke en hulle geloofsbelydenisse ‘n gruwel was. Joseph Smith het daarop met ‘n splinter-nuwe geloof begin wat hy beweer het die “enigste ware kerk op aarde” was. Die probleem met Mormonisme is dat dit die Bybel weerspreek, verander, en daarop uitbrei. Christene het geen rede om te glo dat die Bybel nie waar en voldoende is nie. Om werklik in God te glo en vertrou beteken om in Sy Woord te glo, en die hele Skrif is deur God ingegee, wat beteken dat dit van Hom afkomstig is (2 Timotheus 3:16).

Mormone glo dat daar in werklikheid vier bronne van geestelik geïnspireerde woorde is, nie net een nie: 1) Die Bybel “sover as wat dit korrek vertaal is.” Watter verse geag word verkeerd vertaal te wees word nie altyd duidelik gemaak nie. 2) The Book of Mormon, wat deur Smith “vertaal” was en in 1830 gepubliseer is. Smith beweer dat dit die “mees korrekte boek” op aarde is en dat ‘n mens nader aan God kom deur sy leringe te volg “as met enige ander boek.” 3) The Doctrine and Covenants, bevattende ‘n versameling moderne openbaringe aangaande die “Kerk van Jesus Christus soos wat dit vernuwe is.” 4) The Pearl of the Great Price, wat deur Mormone geag word om leerstellings en onderwysings “op te klaar” wat uit die Bybel verlore geraak het en voeg sy eie gegewens omtrent die skepping van die aarde by.

Mormone glo die volgende van God: Hy was nie altyd die Opperwese van die heelal nie, maar het daardie status verwerf deur ‘n regverdige leefwyse en volhardende inspanning. Hulle glo God die Vader het ‘n “liggaam van vlees en bene so tasbaar soos ‘n mens s’n.” Alhoewel deur moderne Mormoonse leiers verwerp, het Brigham Young verkondig dat Adam eintlik God was en die vader van Jesus Christus. In teenstelling, Christene weet dit van God: daar is slegs een waaragtige God (Deuteronomium 6:4; Jesaja 43:10; 44:6-8), Hy het altyd bestaan en sal altyd bestaan (Deuteronomium 33:27; Psalm 90:2; 1 Timotheus 1:17), en Hy was nie gemaak nie maar is die Skepper (Genesis 1; Psalm 24:1; Jesaja 37:16). Hy is volmaak, en niemand is aan Hom gelyk nie (Psalm 86:8; Jesaja 40:25). God die Vader is nie ‘n mens nie, en Hy was dit nooit (Numeri 23:19; 1 Samuel 15:29; Hosea 11:9). Hy is Gees (Johannes 4:24), en Gees bestaan nie uit vlees en been nie (Lukas 24:39).

Mormone glo dat daar verskillende vlakke of koninkryke in die hiernamaals is: die “celestial kingdom” (hemelse koninkryk), die “terrestrial kingdom” (aardse koninkryk), die “telestial kingdom” (‘n selfgemaakte woord), en die buitenste duisternis. Waar die mensdom sal beland hang af van wat hulle glo en doen in hierdie lewe. In teenstelling daarmee, sê die Bybel dat ons na die dood hemel of hel toe gaan, afhangende of ons in Jesus Christus geglo het as ons Here en Verlosser. Om sonder ons liggame te wees beteken, as gelowiges, dat ons by die Here is (2 Korinthiërs 5:6-8). Ongelowiges word hel of doderyk toe gestuur (Lukas 16:22-23). Wanneer Jesus weer kom, sal ons nuwe liggame ontvang (1 Korinthiërs 15:50-54). Daar sal ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wees vir die gelowiges (Openbaring 21:1), en ongelowiges sal in die ewige poel van vuur gewerp word (Openbaring 20:11-15). Daar is geen tweede kans vir vergifnis na die dood nie (Hebreërs 9:27).

Mormoonse leiers leer dat Jesus se menswording die gevolg was van ‘n liggaamlike verhouding tussen God die Vader en Maria. Mormone glo dat Jesus ‘n god is, maar dat enige mens ook ‘n god kan word. Mormonisme leer dat verlossing verdien kan word deur ‘n kombinasie van geloof en goeie werke. In teenstelling hiermee, word Christene histories geleer dat niemand die status van God kan verwerf nie – niemand is heilig soos Hy nie (1 Samuel 2:2). Ons kan slegs heilig gemaak word voor die aangesig van God deur geloof in Hom (1 Korinthiërs 1:2). Jesus is die eniggebore Seun van God (Johannes 3:16), die enigste wat ooit ‘n sondelose, onberispelike lewe gelei het, en nou die hoogste plek van eer in die hemel beklee (Hebreërs 7:26). Jesus en God is een in wese, Jesus die Enigste wat bestaan het voor ‘n liggaamlike geboorte (Johannes 1:1-8; 8:56-58). Jesus het Homself vir ons gegee as ‘n offer, God het Hom uit die dood opgewek, en eendag sal almal bely dat Jesus Christus die Here is (Filippense 2:6-11). Jesus leer ons dat dit onmoontlik is om in die hemel te kom deur ons eie dade, en dat dit slegs moontlik is deur geloof in Hom (Mattheus 19:26). Ons almal verdien die ewige straf vir ons sonde, maar God se oneindige liefde en genade het vir ons uitkoms gegee. “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).

Dit is duidelik dat daar net een manier is waarop ons verlossing kan ontvang, en dit is deur God en Sy Seun Jesus te ken (Johannes 17:3). Dit word nie deur werke verkry nie, maar deur geloof (Romeine 1:17; 3:28). Ons ontvang hierdie gawe maak nie saak wie ons is of wat ons gedoen het nie (Romeine 3:22). “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12).

Alhoewel Mormone gewoonlik vriendelike, liefdevolle en goedhartige mense is, word hulle deur ‘n valse godsdiens mislei wat die wese van God, die Persoon van Jesus Christus, en die wyse van verlossing verdraai.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is Mormonisme ‘n kultus? Wat glo Mormone?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries