Vraag
Wat is Pinksterdag?
Antwoord
“Pinksterdag” is belangrik in beide die Ou en die Nuwe Testamente. Pinksterdag is eintlik die Griekse naam vir ‘n fees, bekend in die Ou Testament as die Fees van Weke (Lev 23:15; Deut 16:9). Die Griekse woord beteken “vyftig” en verwys na die 50 dae wat verstryk het, sedert die beweegoffer van Paasfees. Die Fees van die Weke het die einde van die graanoes gevier. Baie interessant egter is die gebruik daarvan in Joël en Handelinge. Deur terug te kyk na Joël se profesie (Joël 2:28-32) en vorentoe na die belofte van die Heilige Gees in Christus se laaste woorde op aarde, voordat Hy opgevaar het na die hemel (Hand 1:8), lei Pinksterfees die begin van die kerk-eeu in.
Die enigste bybelse verwysing na die eintlike gebeure van Pinksterfees is Hand 2:1-3. Pinkster is ‘n herinnering aan die Laaste Nagmaal; in beide gevalle is die dissipels bymekaar in ‘n huis vir ‘n belangrike gebeurtenis. By die Laaste Nagmaal, is die dissipels getuies van die einde van die Messias se aardse bediening toe Hy hulle vra om Hom te onthou na Sy dood, totdat Hy weer kom. By Pinkster is die dissipels getuies van die geboorte van die Nuwe Testamentiese kerk deur die koms van die Heilige Gees, wat in alle gelowiges inwoning maak. Die toneel van die dissipels in ‘n vertrek tydens Pinkster hou verband met die aanvang van die Heilige Gees se werk in die kerk, met die afluiting van Christus se aardse bediening in die bo-vertrek, voor die kruisiging.
Die beskrywing van vuur en wind wat gedurende die Pinksterweergawe genoem word, weerklink regdeur die Ou en Nuwe Testament. Die geluid van die wind tydens Pinkster was “geweldig” en “magtig.” Skriftuurlike verwysings na die krag van wind (altyd met die verstaan dat dit onder God se beheer is) is ryklik. Eks 10:13; Ps 18:42 en Jes 11:15 in die Ou Testament en Matt 14:23-32 in die Nuwe Testament (Job 12:10) en as Gees in die Nuwe (Joh 3:8). Netsoos die eerste Adam die asem van fisiese lewe ontvang het (Gen 2:7), so bring Jesus, die tweede Adam, die asem van geestelike lewe. Die gedagte van geestelike lewe wat deur die Heilige Gees geskep word, is sekerlik ingeslote in die wind tydens Pinkster.
Vuur word dikwels in die Ou Testament geassosieer met die teenwoordigheid van God (Eks 3:2; 13;21-22; 24:17; Jes 10:17) en met Sy heiligheid (Ps 97:3; Maleagi 3:2). Soortgelyk in die Nuwe Testament, word vuur geassosieer met die teenwoordigheid van God (Hebr 12:29) en die reiniging wat Hy kan bring in die mens se lewe (Openbaring 3:18). God se teenwoordigheid en heiligheid word ingesluit in die vuurtonge van die Pinkster. Dit is inderdaad so dat vuur met Christus Self geïdentifiseer word (Openbaring 1:14; 19:12). Hierdie assosiasie is onderliggend aan die Pinkstergawe van die Heilige Gees, wat die dissipels sou leer om die Woord te verkondig.
‘n Ander aspek van die Pinksterfees is die wonderbaarlike spreek van vreemde tale, wat dit vir mense uit verskillende taalgroepe moontlik gemaak het om die boodskap van die dissipels te kon verstaan. Daarmee saam was die dapper en kragtige prediking van Petrus aan die Joodse gehoor. Die uitwerking daarvan was kragtig en die luisteraars se harte was diep geraak (Hand 2:37). Petrus het hulle opdrag gegee om hulle te bekeer en te laat doop in die Naam van Jesus Christus (Hand 2:38). Die verhaal word afgesluit met 3 000 siele wat tot bekering kom en by die getal gelowiges gevoeg is, die breking van die brood en gebede, apostoliese tekens en wonders en ‘n gemeenskap wat gevorm is, waar in elkeen se behoefte voldoen was.
English
Wat is Pinksterdag?