settings icon
share icon
Vraag

Wat is die Tien Gebooie?

Antwoord


Die Tien Gebooie is tien wette in die Bybel wat God aan die volk van Israel gegee het kort na hulle uittog uit Egipte. Die Tien Gebooie is hoofsaaklik ‘n samevatting van die 613 wette wat in die Ou Testamentiese Wet gevind word. Die eerste vier gebooie handel oor ons verhouding met God. Die laaste ses gebooie handel oor ons verhoudinge met mekaar. Die Tien Gebooie is opgeteken in die Bybel in Exodus 20:1-17 en Deuteronomium 5:6-21 en lees as volg:

1) “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie.” Hierdie gebod is teen die aanbidding van enige ander god behalwe die enigste ware God. Alle ander gode is valse gode.

2) “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.” Hierdie gebod verbied die maak van ‘n afgod, ‘n sigbare beeltenis van God. Daar is geen beeltenis wat ons kan maak wat God akkuraat kan voorstel nie. Om ‘n afgod te maak om God te verteenwoordig is om ‘n valse God te aanbid.

3) “Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydelik gebruik nie, want die HERE sal die een wat Sy Naam ydelik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.” Hierdie gebod is teen die misbruik van die HERE se heilige Naam. Ons mag God se Naam nie ligtelik gebruik nie. Ons moet ontsag aan God bewys deur Hom slegs met eerbied en verering te noem.

4) “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die Sabbatdag geseën en dit geheilig.” Hierdie gebod is ‘n bevel om die Sabbat (Saterdag, die laaste dag van die week) aan die HERE toe te wy.

5) “Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.” Hierdie gebod beveel ons om altyd ons ouers met eer en respek te behandel.

6) “Jy mag nie doodslaan nie.” Hierdie gebod verbied die voorbedagte moord op ‘n ander mens.

7) “Jy mag nie egbreek nie.” Hierdie gebod verbied seksuele gemeenskap met enigeen behalwe met jou wederhelfte.

8) “Jy mag nie steel nie.” Hierdie gebod verbied jou om enigiets te neem van ‘n ander persoon sonder sy toestemming.

9) “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.” Hierdie gebod verbied die valse beskuldiging van ‘n ander persoon. Dit is hoofsaaklik ‘n bevel om nie leuens te vertel nie.

10) “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” Hierdie gebod verbied jou om enigiets te begeer wat nie aan jou behoort nie. Begeerte kan lei tot die verbreking van enige van die gebooie hierbo genoem: doodslaan, egbreek, en steel. As dit verkeerd is om iets te doen, dan is dit ook verkeerd om daardie selfde ding te begeer.

Baie mense sien die Tien Gebooie verkeerdelik as ‘n stel reëls, wat indien dit nagekom word, toegang tot die hemel na die dood sal verseker. In teenstelling hiermee, is die doel van die Tien Gebooie om mense te laat besef dat hulle nie in staat is om die Wet stiptelik na te kom nie (Romeine 7:7-11), en dat hulle derhalwe God se genade en seën nodig het. Ten spyte van die ryk jongman se aanspraak in Mattheus 19:20, is niemand daartoe in staat om die Tien Gebooie stiptelik na te kom nie (Prediker 7:20). Die Tien Gebooie bewys dat ons almal gesondig het (Romeine 3:23) en derhalwe God se genade en seën nodig het, wat ons slegs kan kry deur geloof in Jesus Christus.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die Tien Gebooie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries