settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel oor woede?

Antwoord


Om woede te hanteer, is ‘n belangrike onderwerp. Christenberaders rapporteer dat 50% van mense wat gaan vir berading, probleme het om woede te hanteer. Woede kan kommunikasie verwoes en verhoudings opbreek, sowel as die vreugde en gesondheid van baie ruïneer. Ongelukkig is mense geneig om hul woede te regverdig, in plaas daarvan om verantwoordelikheid daarvoor te neem. Elkeen sukkel met woede, net in verskillende grade. God se Woord bevat gelukkig beginsels hoe om woede op ‘n godvresende wyse te hanteer en hoe om sonde-verwante woede te oorkom.

Woede is nie altyd sonde nie. Daar is ‘n tipe woede wat deur die Bybel goedgekeur word, dikwels bekend as “regverdige verontwaardiging”. In Ps 7:11 en Markus 3:5 word aangedui dat God kwaad is en in Ef 4:26 word van gelowiges gepraat wat kwaad word. Twee Griekse woorde word in die Nuwe Testament gebruik vir ons Engelse woord ”anger”. Een betekenis is “passie, energie” en die ander beteken “verontrus, kokend”. Volgens die Bybel is woede ‘n Godgegewe energie wat veronderstel is om ons te help om ons probleme op te los. Voorbeelde van Bybelse woede sluit in, toe Paulus vir Petrus gekonfronteer het oor sy verkeerde voorbeeld in Gal 2:11-14, Dawid se ontsteltenis toe hy die profeet Natan se onregverdige boodskap hoor (2 Sam 12) en Jesus se woede oor die Jode by die tempel in Jerusalem, wat God op verkeerde wyse vereer het (Joh 2:13-18). Let daarop dat by nie een van hierdie voorbeelde selfverdediging betrokke is nie, maar iemand anders of ‘n beginsel word verdedig.

Woede raak sonde, indien dit selfsugtig gemotiveerd is (Jak 1:20), wanneer God se doelwit vernietig is (1 Kor 10:31) of wanneer woede toegelaat word om te smeul (Ef 4:26-27). In plaas van om die energie wat deur woede opgewek word te gebruik om die probleme te takel, word die persoon aangeval. Ef 4:15-19 sê dat ons die waarheid in liefde moet spreek en ons woorde moet gebruik om ander op te bou. Daar moenie vernietigende en slegte woorde uit ons monde kom nie. Ongelukkig is hierdie vergiftigende taal algemene karaktertrekke van die gevalle mens (Rom 3:13-14). Woede raak sonde, indien dit toegelaat word om oor te kook sonder selfbeheersing en dit oorvloei in ‘n scenario waar seer vermenigvuldig (Spreuke 29:11) en waar verwoesting nagelaat word, dikwels met ongeneesbare gevolge. Woede raak sonde, wanneer die persoon wat kwaad is, weier om gekalmeer te word, ‘n wrok bly dra of alles binne hou (Ef 4:26-27). Dit kan lei tot depressie en irritasies oor klein goedjies, dikwels sonder dat dit verband hou met die onderliggende probleme.

Ons kan woede volgens die Bybel hanteer en erken dat ons selfsugtige woede en/of ons verkeerde hantering van woede sonde is (Spreuke 28:13; 1 Joh 1:9). Hierdie belydenis moet beide teenoor God en teenoor hulle wat deur ons woede seergekry het, wees. Ons moenie die sonde verklein, deur dit te verskoon of die blaam te verskuif nie.

Ons kan woede volgens die Bybel hanteer deur God in die geding te sien. Dit is veral belangrik wanneer mense ons te na gekom het. Jak 1:2-4, Rom 8:28-29 en Gen 50:20 is alles ‘n heenwysing na die feit dat God soewerein en in volkome beheer is oor elke situasie en persoon wat ons pad kruis. Niks gebeur met ons wat Hy nie toelaat of laat gebeur nie. Hierdie verse sê dan ook dat Hy ‘n goeie God is (Ps 145:8, 9, 17) wat alles in ons lewens vir die goeie en die goeie teenoor ander toelaat. In refleksie op hierdie waarheid, totdat dit van ons koppe tot by ons harte beweeg, sal dan ons optrede teenoor diegene wat ons seermaak, verander.

Ons kan woede volgens die Bybel hanteer, deur plek te maak vir God se wraak. Dit is veral belangrik in gevalle van onreg, waar bose mense onskuldige mense mishandel. Gen 50:19 en Rom 12:19 sê beide dat ons nie God moet speel nie. God is regverdig en onpartydig en ons kan Hom vertrou, omdat Hy alles weet en sien om regverdig op te tree (Gen 18:25).

Ons kan woede volgens die Bybel hanteer, deur nie goed met kwaad te vergeld nie (Gen 50:21; Rom 12;21). Hierdie is die sleutel om jou woede in liefde om te skakel. As ons optrede vanuit ons harte vloei, sal ons harte ook deur ons handelinge verander word (Matt 5:43-48). Dus kan ons ons gevoelens teenoor iemand anders verander, deur ons keuse te verander, hoe om teenoor daardie persoon op te tree.

Ons kan woede volgens die Bybel hanteer, deur middel van kommunikasie hoe om die probleem op te los. Daar is vier basiese reëls vir kommunikasie in Ef 4:15, 25-32:

Wees eerlik en praat (Ef 4:15, 25). Mense kan nie ons gedagtes lees nie. Ons moet die waarheid in liefde praat.

Bly beheersd (Ef 4:26-27). Ons moenie toelaat dat probleme opbou, totdat ons ons beheer verloor nie. Om dit wat ons hinder te hanteer en met iemand te deel, is belangrik.

Val die probleem aan, nie die persoon nie (Ef 4:29,31). Dis belangrik om te onthou om die volume van ons stemme ook te beheer (Spreuke 15:1).

Tree op, maar moenie terug baklei nie (Ef 4:31-32). As gevolg van ons gevalle natuur, is ons eerste impuls ‘n sondige een (v 31). Die tyd wat ons spandeer deur tot tien te tel, moet gebruik word om in ‘n godvresende wyse op te tree (v 32) en om onsself daaraan te herinner dat woede gebruik moet word om probleme op te los en nie groter probleme te skep nie.

Ten slotte moet ons sodanig optree om óns deel van die probleem op te los (Hand 12:18). Ons kan nie beheer hê oor ander se optrede nie, maar ons kan aan ons kant die nodige aanpassings maak. Om ‘n humeur te oorkom, is nie iets wat oornag gebeur nie, maar deur gebed, Bybelstudie en deur staat te maak op God se Heilige Gees, kan verkeerde optrede vermy word. Netsoos ons kan toelaat dat woede in ons lewe gevestig raak deur gewoontevorming, so moet ons ook reg optree, totdat dit ‘n goeie gewoonte in ons lewens vestig. English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel oor woede?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries