settings icon
share icon
Vraag

Wat is Christelike Gnostisisme?

Antwoord


Daar is eintlik nie so iets soos Christelike Gnostisisme nie, omdat ware Christenskap en Gnostisisme onderling eksklusiewe vorms van geloof is. Die beginsels van Gnostisisme weerspreek wat dit beteken om ‘n Christen te wees. Dus, terwyl sommige vorms van Gnostisisme hul op Christenskap beroep, is hul nie-Christelik.

Gnostisisme was miskien die gevaarlikste dwaalleer wat die vroeë kerk gedurende die eerste drie eeue bedreig het. Filosowe soos Plato het Gnostisisme beïnvloed en laasgenoemde is op twee valse veronderstellings gebaseer. Eerstens omhels dit ‘n dualisme: gees en materie. Gnostici beweer dat materie inherent boos is en gees is goed. As resultaat hiervan, glo Gnostici dat enigiets in die liggaam, selfs die grootste sonde geen betekenis het nie, omdat ware lewe net in die geestelike ruimte bestaan.

Tweedens beroep Gnostici hul daarop dat hulle ‘n verhewe kennis besit, ‘n “hoër waarheid” wat net aan ‘n sekere paar bekend is. Gnostisisme is van die Griekse word “gnosis” afgelei en beteken “om te weet”. Gnostici glo hulle besit ‘n hoër kennis, nie van die Bybel nie, maar verkry vanaf een of ander mistieke, hoër bestaansvorm. Hulle sien hulself as ‘n bevoorregte klas, verhewe bo almal as gevolg van hul hoër, dieper kennis van God.

Om die opvatting van enige versoening tussen Christendom en Gnostisisme te verwerp, is dit nodig om slegs hulle lerings op die hoofdoktrines van die geloof te vergelyk. Wat verlossing betref, Gnostisisme leer dat verlossing deur die verwerwing van goddelike kennis verkry word en dit bevry ‘n mens van die illusies van donkerte. Alhoewel hulle daarop roem dat hulle volgelinge van Jesus Christus en Sy oorspronklike leringe is, weerspreek Gnostici Hom elke keer. Jesus het niks gesê in verband met verlossing deur kennis nie, maar wel deur geloof in Hom as Verlosser van sonde. “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie” (Ef 2:8-9). Verder is die verlossing wat Christus bied, vry en vir enigeen beskikbaar (Joh 3:16), nie net vir ‘n uitgesoekte groepie wat ‘n spesiale openbaring gehad het nie.

Die Christendom beweer dat daar een bron van Waarheid is en dat dit die Bybel is, die geïnspireerde, foutlose Woord van die lewende God, die enigste onfeilbare voorskrif van geloof en praktyk (Joh 17:17; 2 Tim 3:15-17; Heb 4:12). Dit is God se geskrewe openbaring aan die mensdom en is nooit vervangbaar deur die mens se gedagtes, idees, geskrifte of visioene nie. Die Gnostici aan die ander kant, gebruik ’n verskeidenheid van vroeë dwaalleergeskrifte, bekend as die Gnostiese evangelies, ‘n versameling van vervalsings, bekend as “verlore boeke van die Bybel”. Gelukkig het die vroeë kerkvaders met bykans eenstemmigheid erken, dat hierdie Gnosistiese perkamentrolle bedrieglike vervalsings was, wat valse doktrines oor Jesus Christus, verlossing, God en elke ander beslissende Christelike waarheid omhels. Daar is ontelbare teenstrydighede tussen die Gnosistiese “evangelies” en die Bybel. Selfs as die sogenaamde Christelike Gnostici vanuit die Bybel aanhaal, herskryf hulle verse en dele daarvan om sodoende met hulle filosofie ooreen te stem. Hierdie praktyk is streng verbode en die Skrif waarsku daarteen (Deut 4:2; 12:32; Spreuke 30:6; Open 22:18-19).

Die Persoon Jesus Christus, is ‘n ander gebied waar die Christendom en Gnostisime drasties verskil. Die Gnostici glo dat Jesus se fisiese liggaam net as fisies “beskou” was, maar nie regtig fisies was nie en dat Sy gees op Hom neergekom het toe Hy gedoop is, maar Hom weer voor Sy kruisiging verlaat het. Sulke sienings vernietig nie net die ware menswees van Jesus nie, maar ook die versoening, want Jesus was nie net waarlik God nie, maar ook die ware mens (en fisies in werklikheid) wat waarlik aan die kruis gely en gesterwe het, om sodoende die aanvaarbare plaasvervangende skuldoffer vir sonde te kon wees (Heb 2:14-17). Die Bybelse siening van Jesus bevestig Sy totale mensheid, sowel as Sy godheid.

Gnostisisme is gebaseer op ‘n mistieke, intuïtiewe, subjektiewe, innerlike, emosionele houding ten opsigte van die waarheid, wat glad nie nuut is nie. Dit gaan terug in ‘n sekere vorm na die Tuin van Eden, waar die Satan God bevraagteken het en ook dit wat Hy gespreek het en so Adam en Eva oorgehaal het om Hom te verwerp en die leuen te aanvaar. Hy doen nog dieselfde ding vandag wanneer hy soos “‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Pet 5:8) rondloop. Hy bevraagteken steeds vir God en die Bybel en vang diegene wat naïef en skriftuurlik oningelig is of op soek is na een of ander persoonlike openbaring om hulle spesiaal, uniek en verhewe bo ander te laat voel. Laat ons die apostel Paulus navolg wat gesê het “maar toets dit alles, behou wat goed is” (1 Tess 5:21) en dit moet ons doen deur alles te vergelyk met die Woord van God, die enigste Waarheid.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is Christelike Gnostisisme?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries