settings icon
share icon
Vraag

Wat is wedergeboorte deur die doop? Is doop nodig vir redding? Moet ek gedoop word om gered te wees?

Antwoord


Wedergeboorte deur die doop is die geloof dat ‘n persoon gedoop moet word om gered te wees. Vir ons is die doop ‘n belangrike stap van gehoorsaamheid vir ‘n Christen, maar ons verwerp doop as ‘n vereiste vir redding, Ons glo ten sterkste daarin dat elke Christen die waterdoop deur onderdompeling moet ontvang. Doop is ‘n getuienis van die gelowige dat hy of sy identifiseer met Christus se dood, begrafnis en opstanding. Rom 6:3-4 verklaar, “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in Sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in Sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.” Die handeling van onderdompeling dui op die dood en om saam met Christus begrawe te word. Die handeling om weer uit die water op te kom, beeld Christus se opstanding uit.

Enige vereiste wat tot die geloof in Jesus Christus toegevoeg word vir redding, is ‘n redding wat op werke gebaseer is. Om enigiets by die Evangelie by te voeg, is om te beweer dat Jesus se dood aan die kruis onvoldoende was om vir ons redding te betaal. Om te sê dat ons gedoop moet word om gered te word, beteken ons moet ons eie goeie werke en gehoorsaamheid by Christus se dood voeg, om dit genoegsaam vir ons redding te maak. Jesus se dood alleen het vir ons sondes betaal (Rom 5:8, 2 Kor 5:21). Jesus se betaling vir ons sondes is voldoende vir ons “rekening” - geloof alleenlik is nodig (Joh 3:16, Hand 16:31, Ef 2:8-9). Dus is doop ‘n belangrike stap van gehoorsaamheid ná redding, maar dit kan nie ‘n vereiste vir redding wees nie.

Ja, daar is sekere verse wat aandui dat doop ‘n nodige vereiste vir redding is. Nogtans stel die Bybel dit tog duidelik dat redding alleen deur geloof verkry word (Joh 3:16, Ef 2:8-9, Titus 3:5), dus moet daar ‘n ander interprretasie van daardie verse wees. Die Skrif weerspreek nie die Skrif nie. In die Bybelse tye was ‘n persoon wat hom van een godsdiens na ‘n ander bekeer het, dikwels gedoop, om aan te dui dat bekering plaasgevind het. Diegene wat geweier het om gedoop te word, is daarvan beskuldig dat hulle nie waarlik geglo het nie. Die betekenis van doop was om ‘n publieke besluit te neem. Dus, vir die apostels en vroeë dissipels was ‘n ongedoopte gelowige iets onbekends. Wanneer ‘n persoon tot geloof in Christus gekom het en hy was te skaam om dit in die publiek bekend te maak, was dit ‘n aanduiding dat hy nie waarlik geglo het nie.

As doop vir redding nodig is, waarom sou Paulus gesê het, “Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius” (1 Kor 1:14)? Waarom sou hy gesê het, “Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die Evangelie te verkondig en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor” (1 Kor 1:17)? Ons moet egter toegee dat Paulus hier oor die verdeling in die kerk van Korinte gepraat het. Nogtans, hoe kon Paulus sê, “Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie….” Of “Christus het my immers nie gestuur om te doop nie…”, as doop nodig was vir redding? As doop vir redding nodig is, moes Paulus letterlik gesê het, “Ek dank God dat niemand van julle gered is nie…” en “Christus het my immers nie gestuur om te red nie…” Dit sou ‘n ongelooflike belaglike stelling vir Paulus gewees het om te maak. Verder spel Paulus vir ons volledig uit wat hy as die Evangelie beskou (1 Kor 15:1-8), so waarom laat hy dan na om die doop hierby in te sluit? As doop ‘n vereiste vir redding is, hoe kan enige aanbieding van die Evangelie dit uitlaat?

Wedergeboorte deur die doop is onbybels. Doop verlos jou nie van sonde nie, maar van ‘n slegte gewete. In 1 Pet 3:21 leer Petrus ons dat die doop nie ‘n seremoniële handeling of fisiese reiniging was nie, maar “ ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete.” Doop is die simbool van wat alreeds in die hart en lewe van iemand plaasgevind het, wat vir God as sy Saligmaker aangeneem het (Rom 6:3-5, Gal 3:27, Kol 2:12). Die doop is ‘n belangrike stap van gehoorsaamheid, wat elke Christen behoort te neem. Doop kan nie ‘n vereiste vir redding wees nie. Om doop so te sien, dui op ‘n aanklag teen die volledigheid van die dood en opstanding van Jesus Christus.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is wedergeboorte deur die doop? Is doop nodig vir redding? Moet ek gedoop word om gered te wees?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries