settings icon
share icon
Vraag

Oor watter soort eienskappe beskik God? Hoe kan God beskryf word?

Antwoord


Wanneer ons probeer om dié vraag te beantwoord, is die goeie nuus dat baie dinge oor God uitgevind kan word! Wanneer jy hierdie verduideliking bestudeer, mag jy dit nuttig vind om dit eers deur te lees en dan terug te gaan en sekere skrifgedeeltes op te soek vir verdere duidelikheid. Die skrifgedeeltes is nodig omdat hierdie klompie woorde, sonder die gesag van die Bybel, niks beter as ’n mens se mening sal wees nie. En die menslike begrip van God is dikwels nie reg nie (Job 42:7). Om te sê dat dit belangrik vir ons is om te verstaan hoe God is, is ’n groot onderbeklemtoning! As ons nie daarin slaag nie, sal ons, teen God se wil valse gode kry, najaag en aanbid (Eksodus 20:3-5).

Slegs dít wat God besluit het om van Homself bekend te maak, kan geken word. Een van God se eienskappe is “lig”, wat beteken dat Hy self inligting oor Homself bekend maak (Jesaja 60:19, Johannes 1:17).

Kom ons begin deur te besef dat God ons Skepper is en dat ons deel van Sy skepping is (Genesis 1:1, Psalm 24:1). God het gesê dat die mens na sy gelykenis geskape is. Die mens is bo die res van die skepping verhewe en is aangestel as heerser daaroor (Genesis 1:26-28). Die skepping is geskend deur die sondeval, maar bied nog steeds ’n blik op Sy werke (Genesis 3:17-18; Romeine 1:19-20). Ons kan ’n aanduiding van die grootsheid van God kry deur te kyk na die omvang, kompleksiteit, prag en orde van die skepping.

Die verskillende name van God kan ons help in ons soeke na wie en wat God is. Hulle is soos volg:

Elohim – sterk Een, goddelik (Genesis 1:1)
Adonai – Here, dit dui op ’n Meester – dienaar verhouding (Eksodus 4:10,13)
El Elyon - Allerhoogste, die sterkste Een (Genesis 14:20)
El Roi – die sterk Een wat sien (Genesis 16:13)
El Shaddai – Almagtige God (Genesis 17:1)
El Olam – ewige God (Jesaja 40:28)
Yahweh – GOD “Ek is”, dit wil sê - die God wat ewig bestaan (Eksodus 3:13,14).

Laat ons voortgaan om meer eienskappe van God te ondersoek; God is ewig, wat beteken dat Hy geen begin het nie en dat sy bestaan nooit sal eindig nie. Hy is onsterflik, ewig (Deuteronomium 33:27; Psalm 90:2; 1 Timoteus 1:17). God is onveranderbaar, wat beteken dat hy nie kan verander nie; dit beteken dat God ten volle betroubaar en geloofwaardig is (Maleagi 3:6; Numeri 23:19; Psalm 102:26,27). God is onvergelykbaar, wat beteken dat niemand soos Hy is nie, nie in werke of wese nie; Hy is ongeëwenaard en volmaak (2 Samuel 7:22; Psalm 86:8; Jesaja 40:25; Matteus 5:48). God is onpeilbaar, dit wil sê: Hy is ondeurgrondelik, onnaspeurlik, dit is onmoontlik om Hom ten volle te verstaan (Jesaja 40:28; Psalm 145:3; Romeine 11:33,34).

God is regverdig, wat beteken dat Hy nie mense respekteer deur voortrekkery nie (Deuteronomium 32:4; Psalm 18:30). God is almagtig; Hy kan enige iets doen wat Hy wil, maar sy aksies sal altyd in ooreenstemming met die res van sy karakter wees (Openbaring 19:6; Jeremia 32:17,27). God is alomteenwoordig, wat beteken dat Hy altyd en oral teenwoordig is; dit beteken dat God in alles is (Psalm 139:7-13; Jeremia 23:23). God is alwetend wat beteken dat Hy die verlede, hede en toekoms weet, selfs wat ons op enige gegewe oomblik dink; omdat Hy alles weet, sal Sy geregtigheid altyd redelik gegee word (Psalm 139:1-5; Spreuke 5:21).

God is Enig, wat nie alleen beteken dat daar geen ander soos Hy is nie, maar ook dat Hy alleen die diepste behoeftes en verlangens in ons hart kan vervul (Deuteronomium 6:4). God is regverdi,g wat beteken God kan nie en wil ook nie oortredinge oorsien nie; as gevolg van Sy regverdigheid en geregtigheid moes Jesus God se oordeel ervaar toe ons sondes op Hom geplaas is (Eksodus 9:27; Mattheus 27:45-46; Romeine 3:21-26).

God is soewerein wat beteken dat Hy oppermagtig is; Sy hele skepping saamgevoeg, kan wetende of onwetende, nie Sy voornemens teenwerk nie (Psalm 93:1; 95:3; Jeremia 23:20). God is Gees, wat beteken dat Hy onsigbaar is (Johannes 1:18; 4:24). God is ’n Drie-eenheid, wat beteken dat Hy drie in een is, dieselfde in wese, gelyk in krag en mag. Let op dat in die eerste skrifverwysing “naam” enkelvoud is, maar dat dit verwys na 3 spesifieke Persone – “Vader, Seun, Heilige Gees” (Mattheus 28:19; Markus 1:9-11). God is die waarheid, wat beteken dat Hy in ooreenstemming is met alles wat Hy is, Hy sal onbedorwe bly en kan nie lieg nie (Psalm 117:2; 1 Samuel 15:29).

God is heilig, wat beteken dat Hy afgesonder is van alle morele verontreiniging en dus vyandiggesind is daarteen. God sien alle verkeerde dinge raak en dit maak Hom kwaad; in die Bybel word gewoonlik na vuur verwys tesame met heiligheid. Daar word na God verwys as ’n verterende vuur (Jesaja 6:3; Habakuk 1:13; Eksodus 3:2,4,5; Hebreërs 12:29). God is welwillend – dit sluit Sy goedheid, guns, genade en liefde in – woorde wat verskillende beskrywings van Sy goedheid is. As dit nie vir God se genade was nie, sou die ander eienskappe veroorsaak het dat ons van God afgesonderd sou wees. Met dankbaarheid moet ons erken dat dit nie die geval is nie, want Hy begeer om elkeen van ons persoonlik te ken (Eksodus 34:6; Psalm 31:19; 1 Petrus 1:3; Johannes 3:16; Johannes 17:3).

Hierdie is slegs ’n beskeie poging om ’n vraag van Goddelike omvang, te beantwoord. Soek asseblief, met groot aanmoediging, steeds na Hom (Jeremia 29:13).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Oor watter soort eienskappe beskik God? Hoe kan God beskryf word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries