settings icon
share icon
Vraag

Waarom beland so baie evangeliese Christenleiers in skandale?

Antwoord


Eerstens is dit belangrik om daarop te let dat “so baie” nie ‘n akkurate karakterisering is nie. Dit mag wel so lyk dat baie skandale plaasvind, maar dit word toegeskryf aan die groot hoeveelheid aandag wat daaraan gegee word. Daar is duisende evangeliese Christenleiers, pastore, professore, sendelinge, skrywers en evangeliste wat nog nooit in ‘n skandaal betrokke was nie. Die grootste meerderheid is mans en vrouens wat vir God lief is, getrou aan hul eggenotes en families bly en hul aktiwiteite met die hoogste vorm van eerlikheid en integriteit hanteer. Die misstappe van die minderheid kan nie gebruik word om die meerderheid se karakter aan te val nie.

Daar is steeds die probleem dat skandale soms tussen diegene wat beweer dat hulle evangeliese Christene is, voorkom. Prominente Christenleiers het hulself al blootgestel aan buite-egtelike bedrywighede of prostitusie. Sommige is gevange geneem as gevolg van belastingbedrog en ander finansiële onwettighede. Hoekom gebeur dit? Daar is ten minste drie hoofredes: 1) Sommige wat beweer dat hul evangeliese Christene is, is ongelowige bedrieërs, 2) sommige laat toe dat trots hul posisie kelder en 3) Satan en sy demone se aanvalle en versoekinge is meer aggressief gemik op Christenleiers, want hulle weet dat ‘n skandaal tot ernstige gevolge kan lei , vir beide Christene en nie-Christene.

Sommige “evangeliese Christene” wat in skandale betrokke was, is as bedrieërs en valse profete gesien. Jesus het gewaarsku, “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Matt 7:15-20). Valse profete doen hulself voor as manne en vroue van God en kom voor soos opregte evangeliese leiers. Tog, wys hul “vrugte” (skandale) uiteindelik wie hulle werklik is. Hierin volg hulle Satan se voorbeeld, “Satan self doen hom voor as ‘n engel van die lig. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien” (2 Kor 11:14-15).

Baie Bybels maak dit duidelik dat “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val” (Spreuke 16:18). Jakobus 4:6 herinner ons dat “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade”. Die Bybel waarsku herhaaldelik teen trots. Baie Christenleiers begin ‘n bediening in ‘n gees van nederigheid en afhanklikheid van God, maar as die bediening groei, word hul versoek om van hierdie eer vir hulself te neem. Sommige evangeliese Christenleiers, terwyl hulle lippediens vir God verrig, probeer eintlik maar om die bediening in hul eie krag en wysheid te bou en te hanteer. Hierdie tipe trots lei tot ‘n val. God het deur die profeet Hosea gewaarsku, “Maar toe hulle by goeie weiding gebring is, het hulle hulle vol geëet en toe hulle vol geëet was, het hulle hoogmoedig geword. Daarom het hulle My vergeet” (Hosea 13:6).

Satan weet, deurdat hy so ‘n skandaal by ‘n Christenleier aanmoedig, kan hy ‘n kragtige impak maak. Netsoos Koning Dawid se egbreuk met Batseba en die beplande moord op Uria, groot skade vir Dawid se familie en die ganse Israel beteken het, so is menige kerk of bediening beskadig of verwoes deur ‘n morele misstap van sy leier. Baie Christene se geloof het verswak as gevolg van so ‘n val. Nie-Christene gebruik die val van “Christen”-leiers as ‘n rede om Christenskap die rug te keer. Satan en sy demone weet dit en daarom loods hulle meer aanvalle op diegene in leierskapposte. Die Bybel waarsku ons almal, “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Pet 5:8).

Hoe moet ons reageer as ‘n evangeliese Christenleier van ‘n skandaal beskuldig of betrap word? 1) Moenie luister na ongegronde beskuldigings nie (Spreuke 18:8, 17, 1 Tim 5:19). 2) Maak gebruik van behoorlike Bybelse voorskrifte om diegene wat sondig, te bestraf (Matt 18:15-17, 1 Tim 5:20). As die sonde bewys is en dis erg, behoort permanente uitsetting van die bedieningsleiers afgedwing te word (1 Tim 3:1-13). 3) Vergewe diegene wat sondig (Ef 4:32, Kol 3:13) en wanneer belydenis gedoen is, bring hulle terug in die gemeente (Gal 6:1, 1 Pet 4:8) , maar nie in die leierskap nie. 4) Wees getrou in gebed vir ons leiers. Wees bewus van die probleem waarmee hulle te doen kry, die versoekings waaronder hulle ly en die stres wat hulle moet verduur. Ons behoort vir ons leiers te bid en vir God te vra om hulle te versterk, te beskerm en te bemoedig. 5) Die belangrikste is om die fout wat so ‘n leier gemaak het, as waarskuwing te neem en so jou absolute geloof in God en God alleen te plaas. God maak nooit ‘n fout nie, sondig nooit nie en vertel nooit leuens nie. “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid” (Jes 6:3).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom beland so baie evangeliese Christenleiers in skandale?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries