Vraag
Gaan geestelike/verstandelike siek mense hemel toe? Betoon God genade teenoor hulle wat geestelik/verstandelik vertraag, gestrem of gebreklik is?
Antwoord
Die Bybel sê nie spesifiek of geestelike/verstandelike siek mense hemel toe gaan nie. Tog is daar bewyse in die Bybel dat enigeen wat nie by magte is om self ‘n besluit ten opsigte van verlossing te neem nie, deur Christus se dood gered word. Dit is dieselfde soos dit algmeen geglo word dat kinders hemel toe gaan as hulle sterf, tot hulle die punt bereik waar hulle vir hulself ‘n besluit vir of teen Christus kan maak. Dawid se kind het gesterf en hy het homself getroos met die gedagte, “Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie” (2 Sam 12:23). Dawid het geweet dat hy eendag in die hemel weer sy kind sou sien. Volgens daardie stelling, kan ons aanvaar dat babas en jong kinders, uit God se genade, vir redding gedek word deur Christus se dood.
Ons kan aanneem dat verstandelik gestremde mense ook deur hierdie beginsel gedek word. Die Woord van God sê dit egter nie spesifiek nie. Deur die liefde, genade en medelye van God te ken, stem dit ooreen met Sy karakter. Enige persoon wat verstandelike uitdagings het, in so ‘n mate dat hy nie bewus is van sy sondige toestand en geloof in Christus vir verlossing nie, is in dieselfde kategorie as ‘n kind en dit is nie onregverdig om te aanvaar dat hy/sy uit genade gered is deur dieselfde God wat babatjies en klein kindertjies red nie.
Soos in alles egter, moet ons versigtig wees om nie dogmaties te wees oor enige saak wat nie spesifiek in die Bybel aangespreek word nie. Ons weet dat Jesus ons as Sy eie aanneem, almal wat die Vader Hom gegee het en Hy sal nie een van hulle verlore laat gaan nie (Joh 6:39). Jesus het gesê, “Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie” (Joh 10:28). Ons kan getroos wees met die wete dat ons God se plan altyd volmaak is, Hy doen altyd wat reg en regverdig is en Sy liefde en medelye is oneindig groot en duur tot in ewigheid.
English
Gaan geestelike/verstandelike siek mense hemel toe? Betoon God genade teenoor hulle wat geestelik/verstandelik vertraag, gestrem of gebreklik is?