Vraag
Wat is die verskil tussen die geopenbaarde teenwoordigheid van die Heilige Gees en God se alomteenwoordigheid?
Antwoord
God se alomteenwoordigheid is Sy eienskap om oral op dieselfde tyd te kan wees. Hy is alomteenwoordig selfs as ons nie Sy teenwoordigheid ervaar nie; Hy is hier, selfs al herken ons Hom nie. God se geopenbaarde teenwoordigheid is natuurlik, Sy teenwoordigheid geopenbaar – die feit dat Hy by ons is, is duidelik en oortuigend gemaak.
God se alomteenwoordigheid is vir elke Persoon in die Drie-eenheid van toepassing: die Vader (Jes 66:1), die Seun (Joh 1:48), en die Heilige Gees (Ps 139:7-8). Die feit dat God alomteenwoordig is, mag of mag nie oorgaan in ‘n spesiale ervaring aan ons kant nie. Dit is egter so dat God se gemanifesteerde teenwoordigheid die resultaat van Sy interaksie met ons is, duidelik en onmiskenbaar. Dit is dan wanneer ons God ervaar.
Die Bybel sê dat elke persoon van die Drie-eenheid Homself openbaar as teenwoordig in die lewens van sekere individue. God die Vader het tot Moses gespreek in die brandende bos in Eks 3. God was al die tyd by Moses, maar toe, in die “diep woestyn” naby die berg van God, Horeb, het God besluit om Homself te openbaar. God die Seun het Homself geopenbaar deur die Inkarnasie, soos Joh 1:14 sê, “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.” Op die dag van Pinkster was die Heilige Gees geopenbaar aan die gelowiges in die bokamer: “Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder Sy leiding te doen” (Hand 2:2-4). Die resultaat van die manifestering van God se teenwoordigheid in die lewens van die dissipels was daarna ‘n wêreld in beroering (Hand 17:6).
Volgens die teologie verstaan ons dat God alomteenwoordig is, maar die feit word nie geredelik onderskei met die gevoelens nie. Dit is ‘n realiteit, maar daardie realiteit word nie as relevant gesien ten opsigte van die meerderheid van mense op die planeet, wat geen gewaarwording van Sy teenwoordigheid het nie. Hulle “voel” Hy is ver weg, nie naby nie, en daardie gevoel word hul waarneembare realiteit.
Ons weet van God se geopenbaarde teenwoordigheid ervaringsgewys. Die geopenbaarde teenwoordigheid van die Gees mag miskien nie sigbaar of hoorbaar of fisies opmerkbaar wees nie, maar Sy teenwoordigheid word nogtans beleef. Gedurende daardie tye soos Hy dit kies, manifesteer die Gees Sy teenwoordigheid en ons teologiese kennis raak ‘n eksperimentele kennis. Geloofskennis word liefdevolle vertrouelingskap.
In Ps 71 bid Dawid in sy nood tot sy liefdevolle, genadige en regverdige God. Dawid verstaan dat God by hom is en dit is die rede waarom hy bid. Aan die einde van die gebed, sê Dawid, “U het talle benoude ervaringe oor my gebring, maar elke keer weer my lewe gered, my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood. Herstel my tog in my eer, gee tog uitkoms!” (verse 20-21). God se teenwoordigheid was vir ‘n tydlank in Dawid se lewe weggesteek en dit was ‘n tyd van talle benoudhede en probleme, maar Dawid het vertrou om weer opnuut die manifestering van God se teenwoordigheid te ken en dit sou ‘n tyd van eerbetoon en vertroosting wees. God het nooit vir Sadrag, Mesag en Abednego versaak nie. Vir ‘n tyd egter het dit gelyk asof die enigste heerser wat bestaan het, koning Nebukadnesar was – en hy was moorddadig woedend teenoor die drie Hebreeuse manne. Die koning was onbewus van God se alomteenwoordigheid, toe hy die drie in die brandende vuurkuil gegooi het. En dit was wanneer God toe Sy teenwoordigheid geopenbaar het: “Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: ‘Het ons dan nie drie manne vasgebind en in die oond gegooi nie?’ ‘Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur en die vierde lyk soos ‘n hemelwese’” (Daniël 3:24-25). Die realiteit van God se teenwoordigheid het waarneembaar geword, selfs vir die heidense koning. Dit was God se geopenbaarde teenwoordigheid.
Ons kan nooit God se teenwoordigheid in realiteit verloor nie, maar ons kan die gevoel van Sy teenwoordigheid verloor. Daar is nooit ‘n tyd wat God nie by ons teenwoordig is nie, maar daar is tye wanneer God nie vir ons “sigbaar” teenwoordig is nie. Soms is Sy teenwoordigheid nie duidelik nie of voor die hand liggend vir die menslike oog of die menslike gees nie. Dit is een rede waarom ons geroep word om “deur geloof, nie deur sien” te lewe nie (2 Kor 5:7). God se alomteenwoordigheid kan bestaan sonder dat ons dit waarneem; God se geopenbaarde teenwoordigheid kan nie. Die hele waarheid oor God se geopenbaarde teenwoordigheid, is dat ons bewustheid van Hom wakker is.
Gelowiges het altyd die Heilige Gees by hulle. Die Bybel leer ons aangaande die inwoning van die Gees: “Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang en julle behoort nie aan julleself nie” (1 Kor 6:19). Die Gees sal nie van ons weggeneem word nie. Hy is ons Trooster, ons Helper, ons Voorspraak, tot Jesus weer kom (Joh 14:16). Dan sal Jesus Sélf by ons wees – geopenbaar en vir ewig.
Maar die inwoning van die Gees is nie dieselfde as die Gees se geopenbaarde teenwoordigheid nie. Elke gelowige gaan deur tye wanneer hy nie gered “voel” nie of tye wanneer hy tydens sy aktiwiteite onbewus is van die Gees se teenwoordigheid in hom. Maar dan is daar tye wat daardie selfde inwonende Gees die gelowige op ‘n spesiale , geopenbaarde wyse besoek. Dit kan ‘n lied wees wat die Gees by jou laat opkom; dit kan ‘n toevallige ontmoeting met ‘n vriend wees; dit kan ‘n verlange na gebed wees, ‘n begeerte om die Woord te bestudeer of ‘n onuitspreeklike gevoel van vrede – die Gees is nie beperk in Sy openbaringe van Homself nie. Die feit is dat Hy Homself bekend maak. Hy is ons Trooster. “Die Gees wat aan julle gegee is……wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader.’ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom 8:15-16).
Moet ons vertrou op God se alomteenwoordigheid, selfs as ons nie “voel” dat Hy by ons is nie? Absoluut. God wat nie kan lieg nie, sê dat Hy ons nooit verlaat of in die steek laat nie (Hebr 13:5). Moet ons ook soek na God se geopenbaarde teenwoordigheid? Absoluut. Dit is nie dat ons op gevoelens staatmaak nie of dat ons na ‘n teken soek nie, maar ons verwag van die Trooster om Sy eiendom te vertroos – en ons erken met blydskap dat ons Sy vertroosting nodig het.
English
Wat is die verskil tussen die geopenbaarde teenwoordigheid van die Heilige Gees en God se alomteenwoordigheid?