settings icon
share icon
Vraag

Is die goddelikheid van Christus Bybels?

Antwoord


Aanvullend tot Jesus se spesifieke aansprake oor Homself, het sy dissipels ook die Goddelikheid van Christus erken. Hulle het aanspraak daarop gemaak dat Jesus die reg het om sondes te vergewe – iets wat slegs God kan doen omdat dit God is wat deur sonde te na gekom word (Handelinge 5:31; Kolossense 3:13; Psalm 130:4; Jeremia 31:34). Jesus word ook genoem as die een wat sal oordeel oor mense “of hulle nog leef en of hulle al dood is” (2 Timoteus 4:1). Thomas het aan Jesus uitgeroep, “My Here en my God!” (Johannes 20:28). Paulus het Jesus “ons wonderlike God en Verlosser” (Titus 2:13) genoem en wys daarop dat Jesus voor sy menswording in status op gelyke voet met God gestaan het (Filippense 2:5-8). Die skrywer aan die Hebreërs sê die volgende aangaande Jesus, “U, o God, sal vir ewig en altyd heers” (Hebreërs 1:8). Johannes sê in Johannes 1:1, “Die Woord was by God en die Woord (Jesus) was God.” Daar is baie skrifgedeeltes wat vertel van Christus se goddelikheid (sien Openbaring 1:17; 2:8; 22:13; 1 Korintiërs 10:4; 1 Petrus 2:6-8; vergelyk Psalm 18:2; 95:1, 1 Petrus 5:4; Hebreërs 13:20), maar selfs net een van hulle is genoeg om te bewys dat Christus as goddelik beskou is deur dié wat Hom gevolg het.

Sekere titels wat uniek is aan Jahweh (die formele naam van God) word ook aan Christus in die Ou Testament gegee. Die Ou-Testamenties titel, “verlosser” (Psalm 130:7; Hosea 13:14) word ten opsigte van Jesus gebruik in die Nuwe Testament (Titus 2:13; Openbaring 5:9). Jesus word Immanuel (“God met ons” in Matteus 1) genoem. In Sagaria 12:10 is dit Jahweh wat sê, “Hulle sal dan weet dat Ek die een is wat hulle seergemaak het soos iemand wat hulle met ’n wapen gesteek het.” Die Nuwe Testament pas dit toe op Jesus se kruisiging (Johannes 19:37; Openbaring 1:7). As dit Jahweh is wat gesteek is en na gekyk word en Jesus was die een wat gesteek en na gekyk is, dan is Jesus, Jahweh. Paulus interpreteer Jesaja 45:22-23 as toepaslik op Jesus in Filippense 2:10-11. Jesus se naam word vêrder langs dié van Jahweh in gebed gebruik: “Ons God en Vader en ons Here Jesus Christus se goedheid en vrede is by julle almal.” (Galasiërs 1:3; Efesiërs 1:2). Dit sou godslastering gewees het as Christus nie Goddelik was nie. Die naam van Jesus verskyn saam met Jahweh in Jesus se opdrag om te doop “op gesag van die Vader, die Seun en die Heilige Gees” (Matteus 28:19; sien ook 2 Korinthiërs 13:14). In Openbaring sê Johannes dat die hele skepping Christus (die Lam) geprys het – Jesus is dus nie deel van die skepping nie (5:13).

Dade wat slegs deur God moontlik is, word aan Jesus toegeskryf. Jesus het nie net dooies lewendig gemaak (Johannes 5:21; 11:38-44) en sondes vergewe nie (Handelinge 5:31; 13:38), Hy het die heelal geskep en onderhou (Johannes 1:2; Kolossense 1:16-17)! Hierdie stelling word selfs meer gesaghebbend as in ag geneem word dat Jahweh gesê het dat Hy alleen was tydens die skepping (Jesaja 44:24). Christus het boonop ook eienskappe wat slegs goddelike wesens kan besit: ewigheid (Johannes 8:58), alomteenwoordigheid (Matteus 18:20, 28:20), alwetendheid (Matteus 16:21), almagtigheid (Johannes 11: 38-44).

Dit is een ding om te beweer om God te wees of om iemand te laat glo dit is waar, maar iets totaal anders om dit te bewys. Christus het talle wonderwerke as bewys van sy goddelikheid gedoen en selfs uit die dood opgestaan. Slegs ’n paar van Jesus se wonderwerke is: die verandering van water in wyn (Johannes 2:7), loop op water (Matteus 14:25), vermeerdering van fisiese voorwerpe (Johannes 6:11), om blindes weer te laat sien (Johannes 9:7), om verlamdes te laat loop (Markus 2:3), siekes gesond maak (Matteus 9:35; Markus 1:30-42), en selfs dooies weer lewendig maak (Johannes 11:43-44; Lukas 7:11-15; Markus 5:35). Christus self het ook uit die dood opgestaan. Niks soos die opstanding word deur enige ander godsdiens erken nie en geen ander godsdiens het soveel bevestiging daarvan buite Skriftuurlike verwantskap nie. Volgens Dr. Gary Habermas is daar ten minste twaalf historiese feite wat selfs nie-Christen geleerdes erken:

1. Jesus is dood as gevolg van kruisiging.
2. Hy was begrawe.
3. Sy dood het veroorsaak dat die dissipels begin twyfel en hoop verloor het.
4. Jesus se graf is leeg gevind (of beweer dat dit leeg was) na ’n paar dae.
5. Die dissipels het geglo dat hulle die opgestane Jesus gesien het.
6. Die dissipels is daarna van skeptici na gelowiges verander.
7. Hierdie feit was die sentrale boodskap wat verkondig is deur die vroeë kerk.
8. Hierdie boodskap is verkondig in Jerusalem.
9. Die Kerk is gebore en het gegroei as gevolg van hierdie verkondiging.
10. Opstandingsdag, Sondag, het die Sabbat (Saterdag) as die primêre dag van aanbidding vervang.
11. Jakobus, ’n skeptikus, is bekeer nadat hy ook geglo het hy het die opgestane Jesus gesien.
12. Paulus, ’n vyand van die Christendom, is bekeer deur ’n ondervinding wat hy geglo het ’n verskyning van die opgestane Jesus was.

As iemand beswaar sou aanteken teen hierdie lys, is slegs ’n paar nodig om die opstanding en verspreiding van die Woord te bewys: Jesus se dood, begrafnis, opstanding en verskynings (1 Korinthiërs 15:1-5). Dit is moontlik dat sekere teorieë een of twee van bogenoemde feite kan verklaar, maar die opstanding verduidelik en verklaar dit alles. Kritici erken dat die dissipels gesê het hulle het die opgestane Jesus gesien. Nie leuens of hallusinasies kan mense verander op die manier waarop die opstanding dit gedoen het nie. Wat sou hulle daardeur kon bereik het in die eerste plek? Die Christendom was nie gewild nie en hulle het beslis nie geld daaruit gemaak nie. In die tweede plek, leuenaars maak nie goeie martelaars nie. Daar is geen beter verduideliking vir die bereidheid van die dissipels om vreeslike dode te sterf ter wille van hulle geloof as juis as die opstanding nie. Dit is wel so dat baie mense sterf as gevolg van leuens wat hulle glo waar is, maar niemand sterf vir iets wat hulle weet nie waar is nie.

Gevolgtrekking: Christus het beweer dat Hy Jahweh was, dat Hy Goddelik was (nie alleen “’n god” nie, maar die Ware God), Sy volgelinge (Jode wat baie bang sou wees vir afgodsdiens) het Hom geglo en so na Hom verwys. Christus het Sy aansprake op goddelikheid bewys deur wonderwerke wat die wêreld-veranderende opstanding insluit. Geen ander hipotese kan hierdie feite verklaar nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is die goddelikheid van Christus Bybels?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries