settings icon
share icon
Vraag

Waarom laat God toe dat goeie dinge met slegte mense gebeur?

Antwoord


Hierdie vraag is gelyksoortig aan die teenoorgestelde: “Waarom laat God toe dat slegte dinge met goeie mense gebeur?” Beide vrae verwys na die ingewikkelde onregverdigheid wat ons daagliks waarneem. Ps 73 is ons antwoord ten opsigte van presies dieselfde vrae wat ook die Psalmskrywer hinder. Hy ondervind aaklige onrus en angs in sy binneste, terwyl hy skryf, “Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën, toe ek hulle voorspoed sien” (Ps 73:2-3).

Die skrywer van die Psalm was ‘n man met die naam Asaf, ‘n leier van een van die tempelkore. Dit is duidelik dat hy nie ‘n ryk man was nie, maar eerder iemand wat sy lewe toegewy het om God te dien (sien 1 Kron 25). Maar soos ons het hy moeilike tye beleef en die ongeregtigheid van dit alles bevraagteken. Hy het waargeneem dat die goddelose mense om hom volgens hul eie reëls geleef het, en al die rykdom en plesier van die wêreld geniet het, so ook rykdom bymekaar gemaak het. Hy kla, “Hulle het geen kwellings nie,hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie” (Ps 73:4-5).

Asaf het na hierdie mense gekyk wat nie probleme gehad het nie. Hulle kon hul rekeninge betaal. Hulle het volop om te eet en baie luukshede, terwyl arme Asaf net die koor gehad het om af te rig en probeer het om heilig te lewe.En om dinge erger te maak, sy keuse om God te dien, het hom nie juis gehelp nie, of so het dit gelyk. Hy het begin om jaloers te wees op hierdie mense en selfs God gevra hoekom Hy sulke goed toelaat om te gebeur.

Hoe dikwels vind ons dat ons lewe verband hou met Asaf s’n? Ons wy ons lewens daaraan toe om God te dien. Dan kyk ons na die goddelose mense om ons wat nuwe besittings kry, luuksehuise, bevorderings en pragtige klere, terwyl ons finansieel sukkel. Die antwoord lê in die res van die Psalm. Asaf was jaloers op hierdie bose mense, totdat hy besef het dat daar een belangrike ding is: Toe hy die heiligdom van God binnegaan, het hy hul uiteindelike bestemming ten volle verstaan: “Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik, totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. In ‘n oogwink word hulle iets afgrysliks, gaan hulle te gronde, tref ‘n verskriklike einde hulle. Net soos ‘n droom wat ophou as ‘n mens wakker word, so verdwyn hulle, Here, as U ingryp” (Ps 73:16-20). Hulle wat tydelike rykdom op aarde het, is in werklikheid geestelike bedelaars, omdat hulle nie ware rykdom het nie, naamlik die ewige lewe.

Daar is baie kere wat ons nie verstaan wat met ons gebeur nie en hoe voorsiening werk nie. Toe Asaf die heiligdom van God binnegaan, het hy begin sien dat daar geen nodigheid vir hom was om jaloers te wees op die voorspoed van die goddelose nie, omdat hul rykdom ‘n illusie is. Hy het begin om te begryp dat die antieke misleidende Satan leuens gebruik het om hom te laat wegkyk van sy realiteit met God. Met die ingang tot die heiligdom het Asaf besef dat voorspoed ‘n verbygaande bevrediging is, soos ‘n mooi droom wat ons net vir ‘n oomblik bly maak, maar as ons wakker word, besef ons dat dit onwaar was. Asaf bestraf homself vir sy eie dwaasheid. Hy erken dat hy “dom en sonder insig” was om jaloers te wees op die sondaars (Ps 73:22). Sy gedagtes het toe teruggekeer na sy eie blydskap in God, toe hy besef het hoe baie vreugde, vervulling en ware geestelike rykdom hy in die Skepper gehad het.

Ons mag dalk nie alles wat ons begeer op aarde besit nie, maar ons sal eendag voorspoedig wees tot in alle ewigheid, deur Jesus Christus, ons Here. Wanneer ons versoek word om die ander pad te probeer, moet ons onthou dat die ander pad ‘n doodloop is (Matt 7:13). Die nou pad voor ons deur Jesus Christus is die enigste pad wat na die ewige lewe lei. Dit moet ons blydskap en ons troos wees. “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al U werke bly vertel” (Ps 73:25, 27-28).

Ons moet onsself nie ontstel as goeie dinge met slegte mense gebeur nie. Ons moet net ons fokus op ons Skepper hou en in Sy teenwoordigheid ingaan elke dag, deur die poort van Sy heilige Woord. Daar sal ons die waarheid , tevredenheid, geestelike rykdom en ewige blydskap vind.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarom laat God toe dat goeie dinge met slegte mense gebeur?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries