Vraag
Hoekom is, om ‘n goeie persoon te wees, nie goed genoeg om hemel toe te gaan nie?
Antwoord
As jy vir die meeste mense vra wat jy moet doen om hemel toe te gaan (veronderstel hulle glo in die hemel of die hiernamaals), sal die oorweldigende antwoordwees, iets van “om ‘n goeie mens te wees.” Die meeste, indien nie alle, godsdienste en wêreldse filosofieë word eties gebaseer. Of dit Islam, Judaïsme of sekulêre humanisme is, die algemene lering om in die hemel te kom, is die siening, om ‘n goeie persoon te wees – deur die Tien Gebooie na te volg of die voorskrifte van die Quran of Die Goue Reël. Maar is dit wat die Christendom leer? Is die Christendom slegs een van baie wêreldse godsdienste wat leer dat ‘n goeie mens hemel toe gaan? Laat ons Matt 19:16-26 ondersoek, vir sommige antwoorde; dit is die storie van die ryk jongman.
Die eerste ding wat ons oplet in hierdie storie, is dat die ryk jongman ‘n goeie vraag vra: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Deur hierdie vraag te vra, erken hy die feit dat, ten spyte van al sy pogings om tot sover toe ‘n goeie mens te wees, kort daar iets en hy wil weet wat hy nog moet doen om die ewige lewe te verkry. Hy vra egter die vraag vanuit die verkeerde wêreldsbeskouing – waar meriete ‘n rol speel (“Watter goeie daad moet ek doen?”); hy het gefaal om die ware betekenis van die Wet te verstaan, soos Jesus dit aan hom sal uitwys, dat die Wet oor ons toesig sou hou, totdat Christus sou kom (Gal 3:24).
Die tweede ding om na op te let, is Jesus se antwoord op sy vraag. Jesus vra op Sy beurt ‘n vraag: waarom hy uitvra oor wat goed is? Jesus gaan na die kern van die saak, naamlik, dat niemand goed is nie en niemand doen goed nie, behalwe God. Die jongman lewe onder ‘n valse voorwendsel: dat ‘n goeie persoon by magte is om sy eie pad hemel toe oop te maak. Om Sy saak te stel, sê Jesus dat, sou die jongman die ewige lewe soek, moet hy die gebooie onderhou. Deur dit te sê, verkondig Jesus nie ‘n werksgebaseerde regverdigheid nie. Jesus daag eerder die jongman se veronderstellings uit, deur die man se vlak begrip van die Wet en die mens se vermoë uit te wys.
Die jongman se antwoord vertel alles. Toe hy hoor dat hy die gebooie moet onderhou, vra hy vir Jesus watter gebooie. Jesus gaan liefdevol voort om die man te wys op die fout wat hy maak, deur aan hom die tweede tafel van die Wet voor te lê, dit is die gebooie wat handel oor ons verhoudings met ander mense. Jy kan feitlik die frustrasie in die jongman se antwoord aanvoel, toe hy vir Jesus vertel dat hy dit al onderhou van sy jeug af – en hy hou vol dat hy ‘n goeie persoon is. Deur te sê dat hy al die gebooie al van sy jeug af onderhou, breek hy die gebooie as gevolg van vals getuienis. Sou hy werklik eerlik wees, sou hy gesê het dat, so hard soos hy ook al die gebooie probeer onderhou het, hy elke keer gefaal het. Hy was nie ‘n algehele goeie persoon nie. Hy het ‘n karige begrip van die Wet gehad en ‘n opgeblaasde opinie van sy eie dat hy alles onderhou het van sy jeug af – hy het volgehou dat hy ‘n goeie mens was. Die jongman het gevoel dat hy die vermoë gehad het. Tog het hy ook die gevoel gehad dat hy nie goed genoeg was nie en hy vra vir Jesus “In watter opsig skiet ek nog te kort?”
Jesus het toe die jongman se selfregverdigheid gekonfronteer. Hy vertel aan hom dat, indien hy begeer om volmaak te wees – ‘n “opregte” goeie persoon – moet hy al sy besittings verkoop en Jesus volg. Jesus het die man se tekortkoming volkome gediagnoseer – sy verknogtheid aan sy rykdom. Die man se groot rykdom het ‘n afgod in sy lewe geraak. Hy beweer dat hy al die gebooie gehou het, maar inderwaarheid kon hy nie eens die eerste een nakom nie, om geen ander gode, behalwe God te aanbid nie! Die man het sy rug op Jesus gedraai en weggegaan. Sy god was sy rykdom, wat hy bó Jesus verkies het.
Jesus het toe na Sy dissipels gedraai en vir hulle ‘n beginsel geleer: “Dit verseker Ek julle: ‘n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?” Hulle het gedink dat rykdom ‘n teken van God se seëninge was. Maar Jesus het die struikelblok uitgewys wat rykdom dikwels was: hul neiging na selfbevrediging en selfvergenoegdheid. Sy dissipels se vraag het Jesus beantwoord, deur hulle te herinner dat verlossing van God af kom: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”
Wie kan gered word? As dit aan die mens oorgelaat word, niemand nie! Hoekom is dit nie genoeg om as ‘n goeie persoon in die hemel te kom nie? Omdat niemand “goed” is nie; daar is slegs Een wat goed is en dit is God Self. Niemand kan die Wet volmaak onderhou nie. Die Bybel sê dat almal gesondig het en ver van God af is (Rom 3:23). Die Bybel sê ook dat die loon van die sonde, die dood is (Rom 6:23a). Gelukkig wag God nie totdat ons op een of ander wyse geleer het om “goed” te wees nie; terwyl ons in ons sondige toestand is, het Christus gesterf vir die onregverdiges (Rom 5:8).
Verlossing is nie gebaseer op ons goedheid nie, maar op Jesus se goedheid. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Rom 10:9). Hierdie verlossing in Christus is ‘n kosbare geskenk en soos alle ware gawes, is dit onverdiend (Rom 6:23); Ef 2:8-9). Die boodskap van die evangelie is dat ons nooit goed genoeg kan wees om in die hemel te kom nie. Ons moet besef dat ons sondaars is wat tekort skiet aan God se heerlikheid en ons moet die opdrag om ons sondes te bely, gehoorsaam en ons geloof en vertroue in Jesus Christus plaas. Christus alleen was ‘n “goeie persoon” – goed genoeg om die hemel te verdien – en Hy gee Sy regverdigheid aan hulle wat in Sy Naam glo (Rom 1:17).
English
Hoekom is, om ‘n goeie persoon te wees, nie goed genoeg om hemel toe te gaan nie?