settings icon
share icon
Vraag

Hoekom moet ek nie selfmoord pleeg nie?

Antwoord


My hart gaan uit na diegene wat dink hulle moet hulle lewe beëindig deur selfmoord te pleeg. As jy dit op hierdie oomblik ervaar, dan mag dit spreek van baie emosies, soos hopeloosheid en jy mag voel asof jy in die diepste pit is en jy twyfel of daar ’n straaltjie van hoop is wat dinge kan beter maak. Dit voel asof niemand omgee of verstaan nie. Die lewe is net nie die moeite werd nie…of is dit?

Een of ander tyd ervaar baie mense afbrekende emosies. Toe ek in so ’n emosionele put was, was van die vrae wat ek gevra het, “Kan dít die wil van God, wat my geskep het, wees?” “Is God te klein om my te help?” “Is my probleme te groot vir Hom?”

Gelukkig kan ek vir jou sê dat as jy ’n paar oomblikke net daaraan dink om God toe te laat om waarlik God te wees, dan sal Hy wys hoe groot Hy regtig is! ! “Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie” (Lukas 1:37). Miskien het letsels van seerkry in die verlede gelei tot ’n oorweldigende gevoel van verwerping of verlatenheid. Dit kan lei tot selfbejammering, woede, bitterheid, wraaksugtige gedagtes of dade, ongesonde vrese, ens, wat probleme veroorsaak het in sommige van jou belangrikste verhoudings. Selfmoord kan egter net lei tot die vernietiging van geliefdes vir wie jy nooit wou seermaak nie; emosionele letsels waarmee hulle vir die res van hulle lewe sal moet saamleef.

Waarom mag jy nie selfmoord pleeg nie? Vriend, dit maak nie saak hoe sleg dinge is nie, daar is ’n God van liefde wat wag dat jy Hom toelaat om jou te lei deur jou tonnel van wanhoop na die Sy wonderlike lig toe. Hy is jou versekerde hoop. Sy naam is Jesus.

Hierdie Jesus, die sondelose Seun van God, identifiseer met jou in jou oomblik van verwerping en vernedering. Die profeet, Jesaja, het van Hom geskryf, “Sy dienaar het onverwags na vore begin kom. Hy was soos ’n boomwortel wat dit regkry om in droë grond te groei. Daar was niks aan hom wat hom opvallend gemaak het nie. Daar was nie iets aan sy voorkoms wat vir ons mooi was nie. Mense het die rug vir hom gedraai. Hy het swaargekry. Hy was kort-kort siek. Mense het hom vermy. Ons het niks van hom gedink nie. Hy het al die siektes gehad wat ons eintlik moes gehad het. Hy het die pyn ervaar wat ons eintlik moes ervaar het. Maar ons het gedink dit is God wat hom vir sy eie oortreding straf. Hy is gewond as gevolg van ons opstand teen God. Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes die prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons weer gesond kon word. Ons almal was soos skape wat verdwaal het. Elkeen het sy eie koers gekies. Maar die Here het al ons sonde op hom laat neerkom” (Jesaja 53:2-6).

Vriend, Jesus Christus het dit alles verduur sodat al jou sonde vergewe kan word. As jy nederig jou sonde bely (loop weg van jou sonde na God), sal God jou vergewe, ongeag die gewig van die skuld wat jy saam met jou dra. “As jy probleme het, vra My om te help en Ek sal jou help. En jy sal vir my dankie sê”(Psalm 50:15). Niks wat jy gedoen het kan só erg wees dat Jesus jou nie kan vergewe nie. Van Sy gunsteling dienaars in die Bybel het ernstige sondes gedoen, soos moord (Moses), egbreek (Koning Dawid), en fisiese en emosionele mishandeling (die apostel Paulus). Hulle het egter vergifnis gekry en het ’n nuwe oorvloedige lewe ervaar. “Vergewe my al my sonde. Vat my verkeerde dade baie ver van my weg”(Psalm 51:2). “Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy ’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine. Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan is die nuwe lewe hier” (2 Korintiërs 5:17)!

Waarom mag jy nie selfmoord pleeg nie? My vriend, God staan gereed om dit wat “gebreek” het, reg te maak…naamlik, die lewe wat jy nou het en wat jy met selfmoord wil beëindig. Die profeet Jesaja het geskryf: “Die Gees van die Here, die Here, het in my lewe gekom. Die Here het my die krag gegee om goeie nuus te bring vir dié wat moedeloos is. Ek tel dié op wat neerslagtig is. Vir hulle wat in die tronk is, sê ek dat hulle vrygelaat gaan word. Vir hulle wat toegesluit is, kondig ek aan dat hulle sal uitkom. Hy stuur my om hulle wat sit en huil te troos. Hy laat my aankondig dat die tyd gekom het dat die Here sy volk gaan bevry en sy vyande gaan straf. Vir hulle wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir vrolikheid. Hulle sal wees soos regop bome wat die Here geplant het om te wys hoe groot Hy is (Jesaja 61:1-3).

Kom na God en laat toe dat Hy jou vreugde en bruikbaarheid herstel wanneer jy Hom vertrou om ’n nuwe werk in jou lewe te begin. “Maak my opreg, God! Maak van my kop tot tone nuut sodat ek kan vasstaan. Moet my nie van U af wegstoot nie. “God, help my om nie ander se lewe te vernietig nie! U is die God wat my lewe heelmaak. Help om vol blydskap vir ander te vertel van die goeie dinge wat U doen. Here, sit al die regte woorde waarmee ek U kan prys in my mond” (Psalm 51:12, 15-17).

Sal jy die Here as jou Redder en Herder aanvaar? Hy sal jou gedagtes en treë lei, een dag op ’n slag, deur Sy Woord, die Bybel. “Hy het gesê: Ek is soos ’n onderwyser vir jou. Ek vat jou aan die hand om jou op die regte pad te lei. Ek sal jou elke keer die regte raad gee. Ek sal jou oppas” (Psalm 32:8). “In daardie tyd sal Hy die fondament wees waarop julle met vertroue kan bou. Hy sal julle oorlaai met ’n skat van wysheid en kennis wat tot julle verlossing sal lei. Maar die sleutel tot hierdie skat is die ontsag wat julle vir die Here het (Jesaja 33:6). In Christus sal jy nog steeds worstelinge hê, maar jy sal dan HOOP hê. Hy is “ ’n vriend wat nader aan jou is as ’n broer” (Spreuke 18:24). Mag die genade van God met jou wees in jou uur van besluit.

As jy begeer om Jesus Christus as jou Verlosser te vertrou, sê hierdie woorde in jou hart aan God. “Here, ek het U nodig in my lewe. Vergewe my asseblief alles wat ek gedoen het. Ek plaas my vertroue in Jesus Christus en glo dat Hy my Verlosser is. Was my asseblief skoon, genees my en herstel my vreugde in die lewe. Baie dankie vir U liefde vir my en dankie vir Jesus se dood vir my onthalwe.”

Het u ‘n besluit vír Jesus Christus geneem as gevolg van wat u hier gelees het? Indien wel, druk op die “Ek het Jesus Christus vandag aanvaar” - knoppie hier onder.
English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom moet ek nie selfmoord pleeg nie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries