settings icon
share icon
Vraag

Wat sê die Bybel i.v.m. huishoudelike verlossing (gesinsbekering)?

Antwoord


Huishoudelike verlossing is die siening dat die hele familie of huisgesin meteens gered word. Die redding van die hele familie word bewerkstellig deur die geloof van die leier in die familie. As die pa of die hoof van die huis homself as ‘n Christen verklaar, dan lei of bestuur hy die Christelike huishouding – sy familielede word Christene, slegs gegrond op die besluit van hul pa/eggenoot. Volgens die konsep van huishoudelike verlossing, red God die hele eenheid, nie net die individuele gelowige nie.

‘n Goeie begrip van die Bybel se lering aangaande huishoudelike verlossing moet begin met die kennis wat die Bybel oordra betreffende verlossing in die algemeen. Ons weet dat daar slegs een manier is om gered te word en dit is deur geloof in Jesus Christus (Matt 7:13-14; Joh 6:67-68; 14:4; Hand 4:12; Ef 2:8). Ons weet ook dat die opdrag om te glo is gerig aan individue en die handeling van geloof is ‘n persoonlike aksie. Dus, verlossing kom vir ‘n individu, wat persoonlik in Christus glo. Om in Christus te glo, is nie iets wat ‘n pa vir sy seun of dogter kan doen nie. Die feit dat een familielid of een lid van ‘n huishouding glo, waarborg geensins dat die res ook glo nie.

Jesus het Self aangedui dat die evangelie dikwels families verdeel. In Matt 10:34 sê Jesus, “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ‘n man en sy pa en tussen ‘n dogter en haar ma, tussen ‘n skoondogter en haar skoonma; ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees.” Hierdie woorde ondermyn heeltemal die konsep van huisgesinsverlossing.

As mense as individue gered word, hoe moet ons dan daardie gedeeltes in die Bybel interpreteer, wat beskou word as ‘n belofte van huishoudelike verlossing? Hoe kan ons die behoefte vir individue om te glo, versoen daarmee om sodoende gered te word en verse soos Hand 11:14? In daardie gedeelte, word aan Kornelius beloof dat sy huisgesin saam met hom gered sou word. Eerstens, soos met enige gedeelte in die Skrif, moet ons die genre of tipe boek waarin dit voorkom, in ag neem. In hierdie geval is dit Handelinge, ‘n historiese vertelling van aktuele gebeure. ‘n Beginsel wat Bybelse geskiedenis betref, is dat geen enkele gebeurtenis outomaties in elke situasie toegepas kan word nie. Byvoorbeeld, Simson het die stadshekke van die stad Gasa afgeruk en dit gedra na ‘n heuwel (Rigters 16:3), maar dit beteken nie dat as ons ons hare lank laat groei, ons dieselfde sterkte sal kry om so te doen nie. In Hand 11, die feit dat God aan Kornelius beloof dat sy hele huis gered sou word, beteken nie dat dieselfde belofte universeel toegepas kan word ten opsigte van alle huishoudings oor alle tye nie. Met ander woorde. Hand 11:14 was ‘n spesifieke belofte aan ‘n spesifieke persoon op ‘n spesifieke tyd. Ons moet versigtig wees om sulke beloftes as universeel te interpreteer; hulle moet nie geskei word van hul historiese agtergronde nie.

Tweedens, “hoe” God Sy belofte aan Kornelius vervul het, is belangrik. In Hand 10 verwelkom Kornelius vir Petrus in sy huis en sê, “Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God” (Hand 10:33). Met ander woorde, Kornelius se hele gesin was daar vergader om alles te hoor wat Petrus sou preek. Almal het die evangelie gehoor en almal het geantwoord daarop. Almal in Kornelius se huishouding het geglo en is gedoop (Hand 11:14-18). Dit is presies wat God beloof het. Sy gesin was nie gered omdat hy geglo het nie, maar omdat hulle ook geglo het.

‘n Ander gedeelte wat die belofte dra van huishoudelike bekering is Hand 16:30-31. Hier vra die Filippynse tronkbewaarder vir Paulus en Silas, “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Die sendelinge antwoord, “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Hierdie belofte is aan ‘n spesifieke individu gegee, in ‘n spesifieke konteks; hierdie een bevat egter ‘n addisionele belofte wat duidelik universeel is en wat alle tydsperiodes en kontekste oorspan. Daardie belofte is nie ‘n huisgesinverlossing nie, maar is heeltemal konsekwent met elke ander vers in die Bybel, wat praat van verlossing. Dit is die belofte dat as jy in die Here Jesus glo “jy gered sal word.” Ook het verlossing vir die tronkbewaarder se huisgesin gekom, as die resultaat van hul aanhoor van die Woord van God en dat hulle individueel gereageer het in geloof: Paulus en Silas “het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig” (Hand 16:32). Die hele familie het die evangelie gehoor. Hulle is almal gered, net soos God beloof het, maar hul redding was nie as gevolg van hul deelvorming van die familie nie; hulle was gered, omdat hulle uit hulself geglo het.

‘n Derde vers in die Nuwe Testament wat sommige gebruik vir huisgesinbekerings is 1 Kor 7:14: “Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.” Dit lyk asof hierdie vers sê dat ‘n ongelowige eggenoot gered kan word op basis van sy of haar eggenoot se geloof in Christus. Dit wil ook voorkom dat hul kinders heilig voor die Here sal wees, as gevolg van een van hul ouers wat gered is. Maar daardie gevolgtrekking sou inkonsekwent wees met die algehele lering van die Skrif. In hierdie konteks verwys die woord “geheilig” of “behoort aan God” nie na verlossing of heilig gemaak voor God nie. Dit verwys eerder na die heiligmaking van die huweliksverhouding self. Paulus het onderrig dat Christene nie met ongelowiges in dieselfde juk moet trek nie (2 Kor 6:14). Die vrees van sommige in die kerk was, dat, aangesien hulle getroud was met ongelowiges, hulle in sonde geleef het – hul huwelik “onheilig” was en hul kinders vanuit daardie eenwording buite-egtelik sou wees. Paulus verlig hul vrese: gelowiges wat reeds met ongelowiges getroud was, moet getroud bly solank as die ongelowige instem om getroud te bly. Hulle moenie ‘n egskeiding soek nie; hul huweliksverhouding is geheilig (afgesonder in God se oë) gebaseer op die geloof van die gelowige eggenoot. Dit geld ook vir die kinders in hul huwelik – wettig in die oë van God.

Die feit dat 1 Kor 7:14 nie praat van huisgesinbekering nie, is duidelik sigbaar in die vraag wat Paulus vra in 1 Kor 7:16: “Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of, jy man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?” As gesinsbekering waar was, dan sou die vrou alreeds gered gewees het (op grond van die man se redding); Paulus sou nie nodig hê om te verwys na ‘n toekomstige tyd vir haar redding nie.

Die Bybel belowe nie gesinsbekering nie. Maar dit beteken nie dat ‘n godvresende pa of ma nie diepgaande invloed op die kinders in daardie familie het nie. Die leier van die huisgesin bepaal die koers vir die familie op baie maniere, insluitende die geestelike. Ons moet ernstig hoop, bid en werk vir die verlossing van ons families. Daar is baie kere toe die God van Abraham ook die God van Sara geword het en toe van Isak en toe van Jakob. Soos Charles Spurgeon gesê het, “Though grace does not run in the blood and regeneration is not of blood nor of birth, yet doth it very frequently…..happen that God, by means of one of a household, draws the rest to himself. He calls an individual and then uses him to be a sort of spiritual decoy to bring the rest of the family into the gospel net.”

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat sê die Bybel i.v.m. huishoudelike verlossing (gesinsbekering)?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries