settings icon
share icon
Vraag

Hoe moet ‘n Christen met infertiliteit omgaan?

Antwoord


Infertiliteit kan ‘n baie moeilike probleem wees, veral vir egpare wat lewenslank daarna uitgesien het om kinders te hê. Hulle kan maklik vra “Hoekom ons, Here?” Sekerlik wil God Christene seën met kinders om lief te hê en te vertroetel. Vir fisies gesonde egpare is een van die hartseerste aspekte rondom infertiliteit om nie te weet of dit ‘n tydelike of permanente situasie is nie. Indien dit tydelik is, hoe lank moet hulle wag? Indien dit permanent is, hoe weet hulle dit en wat staan hulle te doen?

Die Bybel skets die probleem van tydelike onvrugbaarheid in verskeie stories:

God het vir Abraham en Sara ‘n kind belowe, maar sy het eers vir Isak op die ouderdom van 90 gekry (Gen 11:30).

Isak, Rebekka se man, het vurig gebid en God het geantwoord met die geboortes van Jakob en Esau (Gen 25:21).

Ragel het gebid en uiteindelik het God “haar skoot geopen” Sy het twee seuns, Josef en Benjamin gebaar (Gen 30:1; 35:18).

Manoag se vrou was vir ‘n tydlank onvrugbaar en het toe aan Simson geboorte gegee (Rigters 13:2).

Elisabet het op ‘n hoë ouderdom aan Johannes die Doper, die voorganger van Christus, lewe geskenk (Luk 1:7, 36).

Sara, Rebekka en Ragel (die moeders van die volk Israel) se kinderloosheid is van belang, aangesien hulle onvermoë om kinders te kon hê uiteindelik tog daarop uitgeloop het en was dit toe die teken van die genade en guns van God. Tog moet onvrugbare egpare nie van mening wees dat God Sy genade en guns van hulle weerhou nie of dat hulle op een of ander manier gestraf word nie. Christen-egpare moet daaraan vashou dat hul sondes vergewe is in Christus en dat die onvermoë om kinders te kan hê nie ‘n straf van God is nie.

Dus, wat staan ‘n onvrugbare egpaar te doen? Dit is goed om die advies van ‘n ginekoloog en ander infertiliteitspesialiste te soek. Beide man en vrou moet ‘n gesonde leefstyl handhaaf om vir swangerskap voor te berei. Die moeders van die Israelse volk het vurig gebid om swanger te raak. Dus is aanhoudende gebed vir ‘n kind sekerlik nie verkeerd nie. Tog is die belangrikste, dat ons moet bid dat God se wil in ons lewens moet seëvier. Indien dit Sy wil is dat ons ‘n natuurlike kind moet hê, sal dit so wees. Indien dit Sy wil is dat ons moet aanneem, pleegouers raak of kinderloos moet bly, dan moet ons dit ook aanvaar en dit blymoedig so doen. Ons weet dat God vir elkeen van Sy geliefde kinders ‘n goddelike plan het en God is die Gewer van lewe. Hy laat bevrugting toe en weerhou dit. God is soewerein en besit alle wysheid en kennis (Rom 11:33-36). “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo…” (Jak 1:17). Om hierdie waarhede te ken en te aanvaar, sal help om die pyn in die harte van ‘n onvrugbare egpaar stelselmatig te verlig.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe moet ‘n Christen met infertiliteit omgaan?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries