Vraag
Wat is die krag van die Heilige Gees?
Antwoord
Die krag van die Heilige Gees is die krag van God. Die Gees, die derde Persoon van die Drie-eenheid, het in die Skrif regdeur verskyn as ‘n Wese deur wie groot kragtige werke gemanifesteer het. Sy krag was eerste sigbaar tydens die skeppingsaksie, want dit was deur Sy krag dat die wêreld ontstaan het (Gen 1:1-2; Job 26:13). Die Heilige Gees het ook manne in die Ou Testament bekragtig om God se wil te volbring: “ Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk” (1 Sam 16:13; Eks 31:2-5; Numeri 27:18). Alhoewel die Gees nie permanent in God se mense in die Ou Testament ingewoon het nie, het Hy deur hulle gewerk en hulle die krag gegee om dinge te bereik, wat hulle nie by magte was om op hul eie te doen nie. Al Simson se kordaatstukke van sterkte word direk toegesê aan die Gees wat oor hom gekom het (Rigters 14:6, 19; 15:14).
Jesus het belowe dat die Gees as ‘n permanente gids, onderwyser, seël van verlossing en trooster vir gelowiges sal wees (Joh 14:16-18). Hy het ook belowe dat die Heilige Gees se krag Sy volgelinge sou help om die boodskap van die evangelie regoor die wêreld te versprei: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8). Die redding van siele is ‘n bonatuurlike werk en word slegs moontlik gemaak deur die Heilige Gees se krag wat in die wêreld werk.
Toe die Heilige Gees op gelowiges neergedaal het op Pinksterdag, was dit nie ‘n stil gebeurtenis nie, maar ‘n kragtige een. “Toe die dag van Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het, om onder Sy leiding te doen” (Hand 2:1-4). Dadelik daarna het die dissipels met die skare gepraat wat in Jerusalem vergader het vir die Pinksterfees. Hierdie mense het vanuit verskeie nasies gekom en dus baie verskillende tale gepraat. Stel jou voor hoe verras hulle moes wees en verwonderd toe die dissipels met hulle in hul eie moedertaal gepraat het (verse 5-12)! Dit was duidelik nie iets wat die dissipels op hul eie kon doen nie, sonder baie maande of selfs jare se studie nie. Die Heilige Gees se krag was geopenbaar toe n groot getal mense daardie dag tot geloof gekom het, ongeveer 3,000 (vers 41).
Gedurende Sy aardse bediening, was Jesus vervul met die Heilige Gees (Luk 4:1), gelei deur die Gees (Luk 4:14), en bekragtig deur die Gees om wonderwerke te kon doen (Matt 12:28). Nadat Jesus opgevaar het hemel toe, het die Gees die apostels toegerus om ook wonderwerke te doen ( 2 Kor 2:12; Hand 2:43; 3:1-7; 9:39-41).
Die krag van die Heilige Gees het onder al die gelowiges van die vroeë kerk gemanifesteer, deur die dispensasie van geestelike gawes soos in tale praat, deur te profeteer, te onderrig, wysheid en nog meer.
Almal wat hul geloof in Jesus Christus geplaas het, het onmiddellik die inwoning van die Heilige Gees ontvang (Rom 8:11). En alhoewel sommige van die geestelike gawes opgehou het (bv. praat in tale en profesie) werk die Heilige Gees steeds in en deur gelowiges om Sy wil te bereik. Sy krag lei ons, oortuig ons, leer ons en rus ons toe om Sy werk te doen en die evangelie te versprei. Die Heilige Gees se kragtige inwoning is’n wonderlike gawe, wat ons nooit ligtelik moet opneem nie.
English
Wat is die krag van die Heilige Gees?