settings icon
share icon
Vraag

Waarvoor moet ek in ‘n vrou soek?

Antwoord


Die heel belangrikste persoonlike verhouding wat ‘n man kan hê, behalwe sy geestelike verhouding met God deur die Here Jesus Christus, is sy verhouding met sy vrou. In die proses om na ‘n vrou te soek, is die hoogste beginsel dat die vrou ‘n persoonlike geloof in Jesus Christus moet hê. Paulus leer dat ons nie met ongelowiges in “dieselfde juk” moet trek nie (2 Kor 6:14). Voordat ‘n man en vrou nie ten volle saamstem oor hierdie belangrike saak nie, kan ‘n godvrugtige en vervulde huwelik nie plaasvind nie.

Dit is egter so dat daar geen waarborg bestaan dat, indien ons met ‘n medegelowige trou, ons altyd in “dieselfde juk” sal trek nie. Die feit dat ‘n vrou ‘n Christen is, beteken nie noodwendig dat sy geestelik so goed by jou gaan pas nie. Het sy dieselfde geestelike doelwitte as jy? Het sy dieselfde geloofsoortuigings? Het sy dieselfde passie vir God? Die kwaliteite vir ‘n potensiële vrou is uiters belangrik. Hopeloos te veel mans trou slegs as gevolg van emosionele of fisiese aangetrokkenheid en dit kan dui op ‘n resep vir mislukking.

Vir watter godvrugtige kwaliteite kan ‘n man voor uitkyk? Die Skrif gee vir ons ‘n paar beginsels vir sodanige vroue. Eerstens moet sy haarself oorgee in ‘n geestelike verhouding met die Here. Paulus sê dat die vrou ondergeskik aan haar man moet wees, soos aan die Here (Ef 5:22-24). Indien sy nie haarself aan die Here oorgee nie, sal sy nie die nodigheid daarvan sien om aan haar man ondergeskik te wees, om sodoende haar eie geestelike welsyn op te bou nie. Ons kan nie die verwagtinge van iemand anders vervul, as ons nie eers vir God toelaat om ons met Homself te vul nie. ‘n Vrou wat vir God in die sentrum van haar lewe het, is ‘n goeie kandidaat om mee te trou.

Paulus gee ook ‘n paar karaktertrekke vir ‘n vrou, as hy praat oor kerkleiers. “Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar” (1 Tim 3:11). Met ander woorde, dit is ‘n vrou wat nie oormatig trots is nie, weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly en sy moet met selfvertroue haar plek langs haar man kan inneem. Sy is ‘n vrou wat eerste fokus op haar verhouding met die Here en haar eie geestelike groei.

Die verantwoordelikhede vir die huwelik is groter vir die man, aangesien God hom as die hoof van sy vrou en sy familie geplaas het. Hierdie hoofskap is ‘n model, afgelei uit die verhouding tussen Christus en die kerk (Ef 5:25-33). Dit is ‘n verhouding wat op liefde gebou is. Soos Christus die kerk liefhet en Homself daarvoor gegee het, so moet die man sy vrou liefhê, soos sy eie liggaam. Dus is ‘n man se persoonlike geestelike verhouding met die Here van uiterste belang vir ‘n suksesvolle huwelik en sy familie. Vrywillige opoffering en die krag om die keuse te maak om’ n dienaar te wees, tot die verbetering van sy huwelik, is die kenmerke van ‘n man wat geestelik volwasse is en God eer. Om met wysheid ‘n vrou te kies volgens Bybelse kwaliteite, is belangrik, maar wat net so belangrik is, is ‘n man se volgehoue geestelike groei en sy oorgawe aan God in sy lewe. ‘n Man wat soekend is om te wees wie God wil hê dat hy moet wees, sal in staat wees om sy vrou te help om te wees wie God begeer dat sy moet wees en sal in staat wees om eenheid in die huwelik te bewerkstellig, saam met God, soos hy en sy vrou se begeerte is.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Waarvoor moet ek in ‘n vrou soek?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries