settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek die leiding van die Heilige Gees herken?

Antwoord


Voordat Jesus opgevaar het hemel toe, het Hy aan Sy dissipels gesê dat Hy iemand sou stuur wat almal wat in Hom glo, sal lei en leer (Hand 1:5; Joh 14:26; 16;7). Jesus se belofte was vervul in minder as twee weke later, toe die Heilige Gees met krag op die gelowiges tydens Pinkster afgekom het (Hand 2). Nou, wanneer iemand in Christus glo, kom die Heilige Gees onmiddellik en bly permanent by so iemand as deel van s/haar lewe (Rom 8:14; 1 Kor 12:13).

Die Heilige Gees het baie funksies. Hy skenk nie slegs geestelike gawes volgens Sy wil nie (1 Kor 12:7-11), maar Hy vertroos ons ook (Joh 14:14), leer ons (Joh 14:26) en woon in ons harte as ‘n waarborg en belofte van Jesus se wederkoms (Ef 1:13; 4:30). Die Heilige Gees neem ook die rol op van Gids en Raadgewer, deur ons te lei op die weg wat ons moet gaan en deur God se waarheid aan ons te openbaar (Luk 12:12; 1 Kor 2:6-10).

Maar hoe herken ons die Gees se leiding? Hoe onderskei ons tussen ons eie gedagtes en Sy leiding? Die Heilige Gees praat nie met hoorbare woorde nie. Hy lei ons deur ons eie gewete (Rom 9:1) en ander stil, subtiele maniere.

Een van die belangrikste wyses om die Heilige Gees se leiding te herken, is om met God se Woord bekend te wees. Die Bybel is die hoogste bron van wysheid oor hoe ons moet lewe (2 Tim 3:16) en gelowiges moet die Skrif deursoek, daarop mediteer en memoriseer (Ef 6:17). Die Woord is die “swaard van die Gees” (Ef 6:17) en die Gees sal dit gebruik om met ons te praat (Joh 16:12-14) om God se wil vir ons lewens te openbaar; Hy sal ook spesifieke Skrif bring in ons gedagtes op tye wat ons dit die meeste benodig (Joh 14:26).

Kennis van God se Woord kan ons help om te onderskei óf ons begeertes van die Heilige Gees af kom óf nie. Ons moet ons begeertes aan die Skrif toets – die Heilige Gees sal ons nooit aanspoor om enigiets in kontras met God se wil te doen nie. As dit in konflik is met die Bybel, dan is dit nie van die Heilige Gees nie en moet ons dit ignoreer.

Dit is ook nodig vir ons om sonder ophou te bid tot die Vader (1 Tess 5:17). Nie alleen hou dit ons harte en gedagtes oop vir die Heilige Gees se leiding nie, maar dit laat ook die Gees toe om namens ons te praat: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges”(Rom 8:26-27).

‘n Ander manier om te sê of ons die Gees se leiding volg, is om te kyk vir tekens van Sy vrug in ons lewens (Gal 5:22). As ons in die Gees wandel, sal ons aanhou om hierdie kwaliteite te sien groei en volgroeid raak in ons en hulle sal ook deur ander raakgesien word. Dit is belangrik om daarop te let dat ons die keuse het óf ons die Heilige Gees se leiding wil aanvaar óf nie. As ons die wil van God ken, maar dit nie wil volg nie, staan ons die werk van die Gees in ons lewe teë (Hand 7:51; 1 Tess 5:19), en ‘n begeerte om ons eie weg te volg, bedroef Hom (Ef 4:30). Die Gees sal ons nooit in sonde in lei nie. Gewoontesonde sal veroorsaak dat ons mis wat die Heilige Gees vir ons wil sê deur die Woord. Om in lyn met God se wil te wees, deur weg te draai van sonde en dit te bely en deur ‘n gewoonte daarvan te maak om te bid en die bestudering van God se Woord, sal ons toelaat om die leiding van die Gees te herken en te volg.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek die leiding van die Heilige Gees herken?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries