Vraag
Hoe nou is die nou poort presies?
Antwoord
Die nou poort, ook genoem die nou deur of hek, word na verwys deur die Here Jesus in Matt 7:13-14 en Luk 13:23-24. Jesus vergelyk die nou poort met die “breë weg” wat tot verdoemenis lei (die hel) en sê dat “baie” op daardie pad is. Daarteenoor sê Jesus dat “die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal en dié wat dit kry, is min.” Wat word presies hiermee bedoel? Hoeveel is die “baie” en hoe min is die “min”?
Eerstens moet ons verstaan dat Jesus die Deur is, waardeur almal moet gaan om vir ewig te lewe. Daar is geen ander weg nie, omdat Hy alleen “die weg en die waarheid en die lewe” is (Joh 14:6). Die pad na die ewige lewe is beperk tot slegs een deurgang – Christus. Hier volgens is die pad nou, omdat dit die “enigste” weg is en relatief min mense sal deur die nou hek gaan. Baie meer sal poog om ‘n alternatiewe roete na God te vind. Hulle sal probeer om daar deur te gaan, deur gebruik te maak van mensgemaakte reëls en regulasies, deur valse godsdiens of deur eie pogings. Hierdie wat “baie” is sal die breë pad volg wat tot ewige vernietiging lei, terwyl die skape die stem van die Goeie Herder sal hoor en Hom volg langs die smal weg, op pad na die ewige lewe (Joh 10:7-11).
Terwyl daar relatief min sal wees wat deur die nou poort gaan, in vergelyking met die baie op die breë pad, sal daar steeds menigtes wees wat die Goeie Herder sal volg. Die apostel Johannes het in sy visioen hierdie menigte gesien, in die boek Openbaring: “Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad en daar was palmtakke in hulle hande. Hulle het hard uitgeroep: ‘Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!’” (Openbaring 7:9-10).
Om deur die smal hek te gaan, is nie maklik nie. Jesus het dit duidelik gemaak toe Hy Sy volgelinge opdrag gegee het om te “stry” om dit reg te kry. In Grieks is die woord “agonizomai” en daarvan kry ons weer die Engelse woord “agonize.” Die implikasie hier is dat hulle wat soek om deur die nou poort te gaan, dit moet doen deur worsteling en inspanning, soos ‘n atleet hom inspan om by die wenstreep uit te kom, alle spiere styf gespan en sy beste te gee. Maar ons moet duidelik wees hier. Geen mate van inspanning red ons nie; verlossing is uit God se genade deur die gawe van geloof (Ef 2;8-9). Niemand sal ooit die hemel verdien, deur te stry daarvoor nie. Maar om deur die smal hek in te gaan, is steeds moeilik, as gevolg van die teenkanting van die menslike trots, ons natuurlike liefde vir sonde en Satan se teenkanting en die wêreld onder sy beheer, alles hierdie wat teen ons veg in die najaag om die ewigheid te verwerf.
Die vermaning om te stry om ingang te kry, is ‘n opdrag om berou te toon en die poort binne te gaan en nie net te staan en kyk daarna nie, daaroor te dink nie, te kla dat dit té smal of té moeilik is of onregverdig smal is nie. Ons moenie vra waarom ander nie binnegaan nie; ons moenie verskonings maak of uitstel nie. Ons mag nie begaan wees oor die getal wat sal of nie sal ingaan nie. Ons moet vorentoe stry en binnegaan! Dan moet ons ander vermaan om ook te stry om in te gaan, voordat dit te laat is.
English
Hoe nou is die nou poort presies?