Vraag
Wat is die verskil tussen onsedelikheid en owerspel?
Antwoord
Die moderne woordeboek definieer “onsedelikheid” (fornication) as volg: (“vrywillige seksuele omgang tussen persone wat nie met mekaar getroud is nie, wat owerspel sou insluit”) en owerspel (adultery) as:(“vrywillige seksuele omgang tussen ‘n getroude persoon en ‘n maat wat iemand anders is as die wettige huweliksmaat”), maar die Bybel gee groter insig oor hoe God hierdie twee seksuele sondes waarneem. In die Bybel word letterlik na beide verwys, maar beide word ook figuurlik gebruik om te verwys na afgodery.
In die Ou Testament was alle seksuele sondes verbied deur die Mosaïese Wet en Joodse gewoontes. Tog word die Hebreeuse woord, vertaal as “onsedelikheid,” ook gebruik in die Ou Testament in die konteks van afgodery en word ook spirituele hoerery genoem. In 2 Kronieke 21:10-14, het God vir Joram met plae en siektes geslaan, omdat hy die volk in afgodery gelei het. Hy het “die inwoners van Jesusalem tot ontrou verlei” (v 11) en “net so ontrou laat word as die familie van Agab” (v 13). Koning Agab was die man van Isebel, ‘n priesteres van die wellustige god Baäl, wat die Israeliete in afgodsaanbidding van die mees ongehoorde soort gelei het. In Esegiël 16 beskryf die profeet Esegiël in fyn besonderhede die geskiedenis van God se mense wat wegdraai van Hom af, om met ander gode te hoereer. Die woord “onsedelikheid” wat “afgodery” beteken word tallose kere in hierdie hoofstuk gebruik. Soos die Israeliete tussen die nasies rondom hulle bekend geraak het vir hul wysheid, rykdom en mag, wat ‘n valstrik vir hulle was, soos ‘n vrou se skoonheid vir haar kan wees, was hulle bewonder en gevlei en gekomplimenteer deur hul bure en op dié wyse in afgodery ingelei. Die woord “onsedelikheid” word gebruik in verband met heidense afgodery, omdat baie heidense “aanbidding” seks in hul gebruike beoefen het. Tempelprostitute was algemeen in die Baäl-aanbidding en ander valse gode. Seksuele sondes van alle soorte was nie slegs aanvaarbaar in hierdie godsdienste nie, maar is aangemoedig as ‘n wyse om groter seëninge vanaf die gode vir die aanbidders te kry, veral wat betref die vermeerdering van hul veetroppe en weiding.
In die Nuwe Testament kom “onsedelikheid” vanaf die Griekse word “porneia” en dit sluit in owerspel en bloedskande. “Porneia” kom van ‘n ander Griekse woord, waarvan die definisie ook die betrokkenheid in enige onwettige wellus insluit, insluitende homoseksualiteit. Die gebruik van die woord in die evangelies en die sendbriewe is altyd met verwysing na seksuele sonde gebruik, terwyl “ontug” in die boek Openbaring altyd na afgodery verwys. Die Here Jesus veroordeel twee van die kerke in Klein Asië vir hul deelname in die onsedelikheid van afgodery (Openbaring 2:14,20) en Hy verwys na “die vrou Isebel” in die eindtye, wat die afgode se valse godsdiens is “en met wie die konings van die aarde onsedelik verkeer het. Die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar onsedelikheid” (Openbaring 17:1-2).
Owerspel aan die ander kant, verwys na die seksuele sonde van getroude mense met iemand anders as hul huweliksmaat en die woord word in die Ou Testament beide letterlik en figuurlik aangewend. Die Hebreeuse woord word as “owerspel” vertaal en beteken letterlik “troubreuk.” Dis interessant dat God die afvalligheid van Sy volk en hul draai na ander gode beskryf as owerspel. Die Joodse volk was beskou as die huweliksmaat van Jehova, dus, toe hulle na die gode van ander volke draai, is hulle vergelyk met ‘n owerspelige vrou. Die Ou Testament het dikwels na Israel se afgodery verwys as ‘n wellustige vroumens wat onsedelik agter ander gode aanloop (Eks 34:15-16; Lev 17:7; Eseg 6:9). Verderaan, in die hele boek, Hosea, word die verhouding tussen God en Israel uitgebeeld as ‘n huwelik tussen die profeet Hosea en sy prostituut, Gomer. Haar aksies teen Hosea was ‘n beeld van die sonde en ontrou van Israel, wat, keer op keer, haar getroue man (Jehova) verlaat het om spirituele owerspel met ander gode te pleeg.
In die Nuwe Testament, word die twee Griekse woorde, wat vertaal word as “owerspel,” byna altyd gebruik as verwysing na seksuele sonde, waarby getroude maats betrokke was. Die enigste uitsondering is in die brief aan die kerk van Tiatira, wat veroordeel word vir die verdraagsaamheid teenoor “die vrou Isebel” wat haarself “as profetes” voorstel (Openbaring 2:20). Hierdie vrou het die kerk ingetrek in sedelose en afgodspraktyke en enigeen wat voor haar valse leringe geswig het, was beskou asof hulle owerspel met haar gepleeg het.
English
Wat is die verskil tussen onsedelikheid en owerspel?