settings icon
share icon
Vraag

Hoe kan ek sonde in my Christelike lewe oorwin?

Antwoord


Die Bybel vertel van die volgende bronne wat tot ons beskikking is waarmee ons sonde kan oorwin:

(1) Die Heilige Gees – Een van die gawes wat God aan ons (Sy kerk) gegee het om sonde te oorwin is die Heilige Gees. God kontrasteer die dade van ’n sondige natuur teenoor die vrugte van die Gees in Galasiërs 5:16-25. In hierdie teks word ons beveel om in die Gees te loop. Alle gelowiges besit alreeds die Heilige Gees, maar hierdie deel sê dat ons saam met die Gees moet loop, onder Sy beheer. Dit beteken om die Heilige Gees te gehoorsaam eerder as ons eie sondige natuur te volg.

Die verskil wat die Heilige Gees kan maak in ’n gelowige se lewe kan gesien word in die lewe van Petrus, wat Jesus drie maal verloën het voordat Hy met die Heilige Gees vervul was – dit nadat hy gesê het dat hy Jesus na die dood sou volg. Na vervulling het hy tydens Pinkster openlik en sterk met die Jode oor die Verlosser gepraat.

Iemand loop saam met die Gees terwyl hy probeer om nie die Gees se aanmoedigings te onderdruk (“moenie julle doof hou” soos dit genoem word in 1 Tessalonisense 5:19), maar eerder streef om met die Gees vervul te wees (Efesiërs 5:18-21). Hoe word mens met die Heilige Gees vervul? Dit is eerstens volgens God se keuse, net soos dit in die Ou Testament was. Hy het individue en spesifieke insidente in die Ou Testament gekies om individue wat Hy gekies het om ’n taak te verrig, met die Gees te vul (Genesis 41:38; Eksodus 31:3; Numeri 24:2; 1 Samuel 10:10; ens). Ek glo daar is bewyse in Efesiërs 5:18-21 en Kolossense 3:16 dat God mense wat hulle self met die Woord van God vul, kies om met die Gees te vul. Dit is duidelik uit die feit dat die gevolg van die vervulling in elke vers dieselfde is. Dit bring ons by die volgende bron.

(2) Die Woord van God, die Bybel – 2 Timoteus 3:16-17 sê dat God Sy Woord gegee het om ons toe te rus vir elke goeie werk. Dit leer ons hoe om te lewe en wat om te glo, dit wys vir ons wanneer ons die verkeerde pad gekies het om te loop, dit help ons om weer terug te kom op die regte pad, en dit help ons om op daardie pad te bly. Hebreërs 4:12 sê dat dit lewend en magtig is en dat dit tot ons harte kan deurdring om die ergste probleme, wat menslik gesproke nie oorkom kan word nie, op te los. In Psalm 119:9,11,105 en ander verse vertel die psalmdigter van die lewensveranderende mag daarvan. Aan Josua is gesê dat hy nie hierdie bron moes vergeet nie, maar dat hy dag en nag daaroor moes mediteer sodat hy dit kon volg. Hy het dit gedoen, self toe wat God beveel het hy moes doen nie militêre sin gemaak het nie en dit was die sleutel tot sy oorwinning in die stryd vir die Beloofde Land.

Die manier waarop ons hierdie bron hanteer, is dikwels oppervlakkig. Ons gee lippediens aan die Bybel deur dit kerk toe te dra of ons daaglikse stukkie daarin te lees, maar ons probeer nie om dit te onthou, daaroor te mediteer, te soek na toepassings in ons lewens, sondes wat dit bloot lê te bely, of om God te loof vir die gawes wat ons ontdek het ons ontvang het. Ons is dikwels óf anoreksies óf bulimies wanneer dit by die Bybel kom. Ons neem óf net genoeg in om geestelik aan die lewe te bly deur van die Bybel te eet net wanneer ons kerk toe gaan (maar nooit genoeg om gesonde, florerende Christene te wees nie) óf ons neem dit dikwels in, maar ons mediteer nooit lank genoeg daaroor om geestelike voeding daarvan te kry nie.

Indien jy nie God se Woord op ’n daaglikse basis op ’n betekenisvolle manier bestudeer en sekere gedeeltes wat die Heilige Gees vir jou uitwys memoriseer nie, is dit baie belangrik dat jy begin om dit ’n gewoonte te maak. Ek stel ook voor dat jy ’n joernaal begin - op die rekenaar as jy vinniger tik as skryf of in ’n notaboek ens. Maak dit ’n gewoonte om nie die Woord te los voordat jy iets wat jy geleer het, neergeskryf het nie. Ek teken dikwels gebede aan God aan waarin ek vra dat Hy my moet help om te verander in die areas waaroor Hy met my gepraat het. Die Bybel is die hulpmiddel wat die Gees in ons en ander se lewens gebruik (Efesiërs 6:17), ’n noodsaaklike en belangrike deel van die wapenrusting wat God ons gee om ons geestelike oorloë te veg (Efesiërs 6:12-18)!

(3) Gebed - Hierdie is nog ’n essensiële bron wat God gegee het. Dit is, weereens, ’n bron waaraan Christene dikwels lippediens gee, maar baie min gebruik maak van. Ons het bidure, tye wanneer ons bid, ens., maar ons gebruik dit nie op dieselfde manier waarvan die vroeëre kerk voorbeelde gee nie (Handelinge 3:1; 4:31; 6:4; 13:1-3, ens). Paulus noem gereeld hoe hy vir die mense waarvoor hy gepreek het, gebid het. Ons gebruik ook nie hierdie bron wanneer ons alleen is nie. God het egter vir ons wonderlike beloftes gegee oor gebed (Matteus 7:7-11; Lukas 18:1-8; 1 Johannes 5:14-15, ens.). Paulus sluit dit weereens in by die gedeelte oor die voorbereiding vir die geestelike oorlogvoering (Efesiërs 6:18)!

Hoe belangrik is dit? Kyk weereens na Christus se woorde aan Petrus in die tuin van Getsémané voor Petrus se verloëning. Terwyl Jesus daar gebid het, het Petrus geslaap. Jesus het hom wakker gemaak en gesê, “Vra God om julle te help om nie die verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker” (Matteus 26:41). Net soos Petrus wil jy graag die regte dinge doen, maar vind nie die krag daarvoor nie. Ons het nodig om God na God se vermaning te luister: om nooit moeg te word om te soek, te klop en te vra nie…dan sal Hy vir ons die Krag gee wat ons nodig het (Matteus 7:7f). Ons moet egter meer as lippediens gee aan hierdie bron.

Ek wil nie voorgee dat gebed toweragtig is nie. Dit is nie. God is ontsagwekkend. Deur gebed erken ons eenvoudig ons eie beperkings en God se onuitputlike mag en gaan ons na Hom om die krag te kry om te doen wat HY wil hê ons moet doen (nie wat ONS wil doen nie) (1 Johannes 5:14-15).

(4) Die Kerk – Hierdie laaste bron is weereens een wat ons geneig is om te ignoreer. Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het, het Hy hulle twee-twee gestuur (Matteus 10:1). Wanneer ons lees oor die sendelingreise in Handelinge, sien ons dat hulle nie een op ’n slag gegaan het nie, maar in groepe van twee of meer. Jesus het gesê dat waar twee of drie mense in Sy Naam bymekaar is, Hy in hulle midde is (Matteus 18:20). Hy beveel ons om nie weg te bly van byeenkomste soos wat die manier van sommige was nie, maar om daardie geleenthede te gebruik om mekaar te bemoedig in liefde en goeie dade (Hebreërs 10:24-25). Hy het gesê dat ons, ons foute aan mekaar moet erken (Jakobus 5:16). In die wysheidsliteratuur van die Ou Testament word vir ons gesê dat soos yster, yster slyp, mense mekaar vorm (Spreuke 27:17). “ ’n Driedubbele tou breek tog nie maklik nie.” Daar is krag in getalle (Prediker 4:11-12).

Ek ken mense wat broers in Christus, of susters in Christus (as jy vroulik is), gevind het, wat bymekaar kom oor die telefoon of persoonlik en met mekaar deel hoe hulle vorder in hulle Christelike wandel, hoe hulle gesukkel het, ens. Hulle verbind hulle dan daaraan om vir mekaar te bid en om mekaar verantwoordelik te hou om God se Woord toe te pas in hulle verhoudings, ens.

Soms kom verandering vinnig. Soms, in ander areas, kom dit stadiger. Maar God het belowe dat wanneer ons gebruik maak van Sy bronne, Hy verandering ons lewens SAL bring. Hou aan, in die wete dat Hy getrou is aan Sy beloftes!

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoe kan ek sonde in my Christelike lewe oorwin?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries