Vraag
Wat is reddende genade?
Antwoord
“Reddende genade” as ‘n idioom, verwys na ‘n “vrymakende kwaliteit” wat ‘n persoon of ‘n ding aanvaarbaar maak. Maar dit is nie die bybelse betekenis nie. Die woord “genade” in die Bybel beteken “onverdiende goddelike hulp gegee aan mense vir hul wedergeboorte of heiligmaking” of “God se welwillendheid aan die onverdienstelikes.” Volgens die Bybel is “reddende genade” die genade van God wat ‘n persoon red.
Die Skrif sê dat genade, die onverdiende guns van die Here, nodig is, “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie” (Rom 3:20). Die enigste manier om God se reddende genade te ontvang, is deur geloof in Christus: “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo” (Rom 3:21-22).
Reddende genade lei tot ons heiligmaking, die proses waardeur God ons omvorm na die beeld van Christus. Die oomblik as verlossing plaasvind, uit genade deur geloof, maak God ons nuwe skepsels (2 Kor 5:17). En Hy beloof om nooit Sy kinders in die steek te laat nie: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Fil 1:6).
Ons het niks in onsself wat ons voor God aanbevelenswaardig kan maak nie (Rom 3:10-11) – ons het geen “reddende genade” op ons eie nie. Om fundamenteel onaanvaarbaar voor God te wees, vra ons, soos Jesus se dissipels, “Maar wie kan dan gered word?” Jesus se antwoord is gerusstellend: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik” (Luk 18:26-27). Verlossing is God se werk. Hy gee die genade wat ons nodig het. Ons “reddende genade” is Christus Self. Sy werk aan die kruis is wat ons verlos, nie ons eie meriete nie.
Dit is maklik om te dink dat, deur ons geloof, ons op ‘n geringe wyse bydra tot ons verlossing. Per slot van rekening moet Christus se meriete oorgedra word op ons deur geloof en dit lyk of ons geloof van ons afkomstig is. Maar Rom 3:10-12 sê dat niemand van ons na God se wil vra nie. En Ef 2:8 sê, “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.” Hebr 12:2 sê, Jesus is “die Begin en Voleinder” van ons geloof.” God se verlossende genade is volkome Sy geskenk aan ons. Selfs ons vermoë om Sy reddende genade te aanvaar, is net nog ‘n ander gawe van God.
English
Wat is reddende genade?