settings icon
share icon
Vraag

Wanneer is die regte tyd vir die huwelik?

Antwoord


Die regte tyd om te trou, verskil van persoon tot persoon en is uniek in elke situasie. Vlakke van volwassenheid en lewenservarings is faktore wat ‘n rol speel; sommige mense is reeds op 18 gereed en sommige nooit. Aangesien die VSA se egskeidingsyfer reeds 50% oorskry, is dit duidelik dat ‘n groot gedeelte van ons gemeenskap nie die huwelik as ‘n ewige verbond sien nie. Dit is egter die wêreld se siening, wat gewoonlik God se wil weerspreek (1 Kor 3:18).

‘n Sterk fondament is noodsaaklik vir ‘n suksesvolle huwelik en moet gelê word selfs voordat ‘n potensiële lewensmaat die hof gemaak word. Ons Christelike lewe moet baie meer insluit as om net Sondae kerk toe te gaan en by Bybelstudie betrokke te wees. Ons moet ‘n persoonlike verhouding met God hê en dit kom net deur te glo en gehoorsaam te wees aan Jesus Christus. Ons moet onsself opvoed rakende die huwelik en God se siening daaromtrent soek, voordat ons daarin betrokke raak. Ons moet weet wat die Bybel leer oor liefde, verbintenis, seksuele verhoudings, die rol van die man en vrou en God se verwagtinge van ons voordat die huwelik plaasvind. Om ten minste een getroude paar as voorbeeld en rolmodel te ken, is belangrik. ‘n Ouer getroude paar kan help met antwoorde oor ‘n suksesvolle huwelik en hoe om intimiteit te skep (buiten die fisiese), hoe onskatbaar die waarde van geloof is, ens.

‘n Voornemende troupaar moet ook seker maak dat hulle mekaar goed ken. Hulle moet mekaar se sienings rondom die huwelik, finansies, skoonouers, kind grootmaak, dissipline, pligte van ‘n man en vrou, of net een of beide van hulle sal werk buite die huis en die vlak van die ander persoon se geestelike volwassenheid. Baie mense trou en neem net die maat op sy/haar woord dat hy/sy ‘n Christen is, net om later uit te vind dat dit maar slegs lippetaal was. Elke paartjie wat oorweeg om te trou, moet deur ‘n beradingskursus gaan, gelei deur ‘n Christen- huweliksberader of –pastoor. Baie predikante of pastore weier om huwelike te bevestig, indien hulle nie verskeie beradingsessies met die paartjie deurloop het nie.

Die huwelik is nie net ‘n verbintenis nie, maar ‘n verbond met God. Dit is die belofte om vir die res van jou lewe saam met daardie ander persoon te lewe, ongeag of jou maat ryk, arm, gesond, siek, oorgewig, ondergewig of vervelig is. ‘n Christen-huwelik moet deur elke omstandigheid kan voortgaan, insluitende rusie, woedebuie, verwoesting, chaos, depressie, bitterheid, verslawing en eensaamheid. Die huwelik moet nooit aangegaan word met die opsie om te skei nie – nie eers as die laaste strooi nie. Die Bybel leer ons dat alle dinge moontlik is (Luk 18:27) en dit sluit sekerlik die huwelik ook in. Indien die paartjie van die begin af die besluit neem om by mekaar te bly en vir God eerste te stel, sal egskeiding nie die onafwendbare oplossing in ‘n moeilike en ongelukkige situasie wees nie.

Dit is belangrik om te onthou dat God graag vir ons ons hartsbegeertes wil gee, maar dit is net moontlik indien dit met Syne ooreenstem. Mense trou dikwels omdat dit “reg voel”. In die vroeë stadiums van ‘n afspraakverhouding en selfs die huwelik, kry jy skoenlappers in jou maag as jy die ander persoon sien. Romanse is die toppunt en jy ken die gevoel van verlief wees. Baie neem aan dat daardie gevoel vir altyd sal bly. Die realiteit is dat dit nie gebeur nie. Die gevolg is teleurstelling en selfs egskeiding as daardie gevoelens vervaag, maar diegene in suksesvolle huwelike weet dat die opgewondenheid om bymekaar te wees, nie hoef te eindig nie. Die skoenlappergevoel gaan oor in ‘n dieper liefdesgevoel, ‘n sterker verbintenis, ‘n meer soliede fondament en ‘n onverbreekbare sekerheid.

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat liefde nie op gevoelens gegrond is nie. Lukas 6:35 getuig daarvan, waar ons geleer word om ons vyande te moet liefhê. Ware liefde is net moontlik as ons die Heilige Gees toelaat om deur ons te werk en die vrug van ons verlossing te kweek (Gal 5:22-23). Dit is ‘n daaglikse besluit wat ons maak om aan onsself en ons selfsug te sterwe en toe te laat dat God deur ons lewe skyn. Paulus vertel aan ons hoe om andere lief te hê in 1 Kor 13:4-7: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Wanneer ons gereed is om die ander persoon soos in 1 Kor 13:4-7 lief te hê, dán is dit die regte tyd om te trou.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wanneer is die regte tyd vir die huwelik?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries