Vraag
As ‘n Christen selfmoord pleeg, is hy/sy steeds gered?
Antwoord
Dit is hartseer dat sommige Christene selfmoord gepleeg het. Bygevoeg by die tragedie, is die valse lering dat deur selfmoord te pleeg, so ‘n persoon outomaties hel toe gaan. Baie glo dat ‘n Christen wat selfmoord pleeg, nie gered word nie. Hierdie lering word nie in die Bybel gesteun nie.
Die Skrif leer, dat, vanaf die oomblik dat ons werklik in Christus glo, die ewige lewe aan ons gewaarborg is (Joh 3:16). Volgens die Bybel kan Christene sonder twyfel weet dat hulle die ewige lewe besit (1 Joh 5:13). Niks kan ‘n Christen van God se liefde skei nie (Rom 8:38-39). Geen “geskape ding” kan ‘n Christen van God se liefde skei nie en selfs ‘n Christen wat selfmoord pleeg, is ‘n “geskape ding;” dus kan selfs selfmoord nie ‘n Christen van God se liefde skei nie. Jesus het vir ál ons sondes gesterf en as ‘n ware Christen, in ‘n oomblik van geestelike stryd en swakheid, selfmoord pleeg, is sy/haar sonde steeds bedek met die bloed van Christus.
Volgens die Bybel is selfmoord nie die bepalende faktor om hemel toe te gaan nie. Indien ‘n ongeredde persoon selfmoord pleeg, het hy niks anders gedoen as om sy pad hel toe te “bespoedig” nie. Daardie persoon egter wat selfmoord gepleeg het, sal uiteindelik in die hel beland, omdat hy hy die verlossing deur Christus verwerp het, nie omdat hy selfmoord gepleeg het nie (Joh 3:18). Ons moet ook noem dat niemand werklik weet wat in so iemand se hart gebeur het, die oomblik toe hy/sy gesterf het nie. Sommige mense het “sterfbedbekerings” en neem Christus aan net voor hulle sterf. Dit is moontlik dat ‘n selfmoordenaar se hart sekondes voor sy/haar dood kan verander en hulle uitroep na God se genade. Ons laat veroordeling in God se hande (1 Sam 16:7).
Die selfmoord van ‘n gelowige is getuienis dat enigeen kan stry met wanhoop en dat ons vyand, Satan, ‘n moordenaar is: “Hy was van die begin af ‘n moordenaar” (Joh 8:44). Selfmoord is steeds ‘n ernstige sonde voor God. Volgens die Bybel is selfmoord “moord;” dit bly verkeerd. Christene word geroep om hul lewens vir God te leef en die besluit wanneer ons sterf, is God s’n en God s’n alleen.
Mag God genade betoon en die Psalmis se perspektief daar wees aan elkeen wat wanhopig is: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my Helper en my God! (Ps 43:5).
English
As ‘n Christen selfmoord pleeg, is hy/sy steeds gered?