settings icon
share icon
Vraag

Wat is die sin van die lewe?

Antwoord


“Wat is die sin van die lewe? Hoe kan ek insig, vervulling en bevrediging in die lewe kry? Het ek die potensiaal om iets wat volhoubare betekenis het, te bereik? Baie mense wonder nooit wat die sin van die lewe is nie. Jare later sal hulle terug kyk en wonder hoekom hulle verhoudings nie gehou het nie en wonder hoekom hulle leeg voel terwyl hulle dít wat hulle wou, bereik het. ’n Bofbalspeler wat baie bekendheid verwerf het, is gevra of daar iets is wat hy graag sou wou gehoor het toe hy sy loopbaan begin het. Sy antwoord was, “Ek wens iemand het vir my gesê dat wanneer jy die top bereik, daar niks daarbo is nie.” Die leegheid van baie ideale word eers besef wanneer baie jare vermors is om dit te bereik.

In ons mens-georiënteerde samelewing het mense baie ideale waarna hulle strewe omdat hulle dink dat hulle betekenis sal vind. Hierdie doelwitte sluit onder andere in, besigheid sukses, rykdom, goeie verhoudings, seks, vermaak, om goeie dinge vir ander te doen, ensovoorts. Mense het getuig dat hulle doelwitte van rykdom, goeie verhoudings en plesier bereik het, maar dat daar steeds ’n leemte binne hulle was – ’n gevoel van leegheid wat deur niks gevul kan word nie.

Die skrywer van die Bybelse boek Prediker, druk sy gevoelens uit wanneer hy sê: “Alles is sinloos! Absoluut alles!” Hierdie skrywer was onmeetbaar ryk, het meer wysheid as enige iemand anders gehad, asook honderde vroue, paleise en tuine wat deur ander koninkryke bejeën is, die beste kos en wyn, en die beste vermaak beskikbaar. Op ’n stadium het hy gesê dat hy alles wat sy hart begeer het, nagejaag het. En tog het hy opgesom dat “die lewe onder die son” (om die lewe te leef asof dit net bestaan uit wat ons met ons oë kan sien en met ons sintuie kan ervaar) sinloos is! Hoekom is daar ’n leemte? Omdat God ons geskape het vir iets meer as wat ons hier en nou kan ervaar. Salomo het die volgende van God gesê, “Hy het die mense iets laat verstaan van hoe sy soort tyd werk,…” In ons harte is ons bewus daarvan dat die “hier-en-nou” nie al is wat daar is nie.

In Genesis, die eerste boek van die Bybel, lees ons dat God die mens na Sy beeld geskape het (Genesis 1:26). Dit beteken dat ons meer soos God is as enige iets anders (enige ander vorm van lewe). Ons sien ook dat die volgende waar was voordat die mens gesondig het en die aarde gevolglik vervloek is: (1) God het die mens ’n sosiale wese gemaak (Genesis 2:18-25); (2) God het werk gegee vir die mens (Genesis 2:15); (3) God het omgang met die mens gehad (Genesis 3:8); en (4) God het die mens heerskappy oor die aarde gegee (Genesis 1:26).

Wat is die betekenis van hierdie punte? Ek glo God het bedoel dat elkeen van hierdie punte moes bydra tot die vervulling van ons lewens, maar elkeen, veral die mens se verhouding met God, is nadelig beïnvloed deur die sondeval en die gevolglike vervloeking van die aarde (Genesis 3).

Aan die einde van baie eindtyd gebeure in Openbaringe, die laaste boek van die Bybel, openbaar God dat Hy die hemel en aarde soos ons dit tans ken, sal vernietig. Dan sal die ewigheid begin deurdat ’n nuwe hemel en aarde geskep sal word. Wanneer dit gebeur sal Hy die verhouding met die verloste mens herstel en sommige mense sal in die see van vuurvlamme gegooi word (Openbaringe 20:11-15). Die vloek van sonde sal vernietig wees; daar sal geen sonde, hartseer, siekte, dood, pyn, ensovoorts, wees nie. (Openbaring 21:4). Die gelowiges sal alles erf; God sal saam met hulle loop en hulle sal sy kinders wees (Openbaring 21:7). Hiermee sal die sirkel voltooi wees – die sirkel waarin die mens deur God geskep is om ’n verhouding met Hom te hê; die mens se sonde wat die verhouding gebreek het en die herstel van die verhouding in die ewigheid, met diegene wat deur Hom uitverkies is. Om alles te kry en te bereik in jou lewe bloot net om op die einde vir ewig afgesonderd van God te sterf, is sinloos! God het dit egter moontlik gemaak om nie net die ewige te kry nie (Lukas 23:43), maar ook om hierdie lewe bevredigend en betekenisvol te maak. Hoe kan jy die ewigheid en “hemel op aarde” verkry?

DIE SIN VAN DIE LEWE HERSTEL DEUR JESUS CHRISTUS

Soos hierbo aangedui is, kan werklike sin, nou en vir ewig, verkry word deur die verhouding met God wat verlore gegaan het toe Adam en Eva gesondig het, te herstel. Hierdie verhouding is vandag slegs moontlik deur Sy Seun, Jesus Christus (Handelinge 4:12; Johannes 14:6; Johannes 1:12). ’n Ewige lewe word verkry wanneer jy berou oor jou sonde toon (as jy nie langer daarmee wil aangaan nie, maar wil hê dat Christus jou moet verander en ’n nuwe mens maak) en op Jesus Christus begin vertrou as jou Verlosser (sien die vraag “Wat is die reddingsplan?” vir meer inligting oor hierdie baie belangrike saak).

Die ware sin van die lewe word nie alleenlik verkry deur net Jesus as Verlosser te erken nie (wat alreeds wonderlik is). Die ware sin van die lewe word eerder gevind wanneer jy Christus begin volg as Sy dissipel, van Hom leer, tyd met Hom deurbring in Sy woord, Die Bybel, met Hom praat in gebed en in gehoorsaamheid aan sy gebooie, saam met Hom loop. As jy ’n ongelowige is (of dalk ’n nuwe gelowige), sê jy dalk vir jouself, “Dit klink nie baie opwindend of vervullend vir my nie!” Maar lees asseblief net ’n bietjie verder. Jesus het die volgende stellings gemaak:

“Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek” (Matteus 11:28-30). “Ek is hier om vir julle die kans te gee om altyd by God te wees. By Hom sal julle die lewe voluit kan geniet” (Johannes 10:10). “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan my te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld” (Matteus 16:24-25). “Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê” (Psalm 37:4).

Al hierdie verse sê dat ons ’n keuse het. Ons kan aangaan om ons lewe op ons manier te lewe (wat veroorsaak dat jy ’n leë lewe het) of jy kan kies om God en Sy doel vir jou lewe met ’n heel hart te volg (wat tot gevolg het dat jy ’n vol lewe het, dat jou hartsbegeertes vervul word en dat jy bevrediging en vervulling ervaar). Dit is so omdat ons Skepper ons liefhet en die beste vir ons wil hê (nie noodwendig die maklikste lewe nie, maar die mees vervullende lewe).

Ten slotte wil ek die volgende analogie, wat ek geleen het by ’n dominee vriend, deel. As jy ’n sportliefhebber is en besluit om na ’n wedstryd te gaan kyk, kan jy ’n goedkoop sitplek op die boonste sitplekke van die pawiljoen kry of jy kan een van die duur sitplekke onder op die pawiljoen, naby die aksie kry. Die Christelike lewe is soortgelyk. Om God EERSTEHANDS te sien werk, is nie vir die Sondag Christene bedoel nie. Hulle het nie die prys betaal nie. Om God EERSTEHANDS te sien werk, is vir die volwaardige dissipel van Christus wat nie meer sy eie begeertes in die lewe nastreef nie, maar wat God se doel ten volle nastreef. HULLE het die prys betaal (volkome oorgawe aan Christus en Sy wil); hulle ervaar die lewe ten volle; en kan hulle self, hulle medemens en hulle Skepper sonder enige berou, in die oë kyk. Het jy al die prys betaal? Is jy gewillig om dit te doen? Indien we,l sal jy nooit weer soek na sin of ’n doel nie.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wat is die sin van die lewe?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries