Vraag
As Jesus die prys vir ons sondes betaal het, hoekom ly ons steeds aan die gevolge daarvan?
Antwoord
Die Bybel gee die goeie nuus dat Jesus die prys vir ons sondes betaal het (Ef 1:7), tog ly ons steeds op baie maniere aan die gevolge daarvan. Byvoorbeeld, ‘n dwelmhandelaar kan ‘n Christen word in die tronk, maar dit beteken nie dat hy die volgende dag vrygelaat sal word nie – hy sal steeds die gevolge van sy sonde van die verlede moet dra.’n Wedergebore Christen wat egbreuk pleeg, kan sy familie verloor, sy loopbaan,ens. – selfs nadat hy sy sonde bely en agtergelaat het, bly die gevolge van sy sonde steeds. Om Jesus Christus aan te neem, skrap nie die tydelike gevolge van sonde nie; ons verlossing waarborg egter dat ons nie die ewige gevolge van sonde in die gesig sal staar nie.
Die gevolg van sonde is die dood (Rom 6:23a). As sondaars verdien ons om vir ewig van God en Sy heiligheid geskei te wees. Aan die kruis het Christus die straf van ons sonde met Sy eie bloed betaal. Hy wat geen sonde gedoen het nie, moes in ons plek ‘n sondaar word. (2 Kor 5:21). Op grond van Christus se volmaakte offer aan die kruis, staan hulle wat glo, nie langer onder God se veroordeling nie (Rom 8:1).
Dit is belangrik om te verstaan dat, as die gelowige in Christus gevolge van sonde beleef, dit nie is omdat hy onder God se veroordeling is nie (Rom 8:1), Sy straf (1 Tess 5:9) of Sy vergelding nie (2 Tess 1:8). Gelowiges staan onder God se genade (Rom 6:15). Jesus het die vloek van God op Homself geneem (Jes 53:10). Die gevolge van sonde wat gelowiges ervaar, kan op een van hierdie maniere geklassifiseer word:
Universele gevolge. Sommige gevolge van sonde word lewenslank ondervind deur elke menslike wese op aarde, omdat ons almal kinders van Adam is. Ons het almal onkruid in ons tuine, ons beleef almal natuurlike rampe, ons raak almal siek en word oud en ons almal gaan uiteindelik fisies dood (Rom 5:12). As sondaars wat in ‘n sondige wêreld leef, is daar geen vermyding van hierdie gevolge van oorspronklike sonde nie.
Natuurlike gevolge. Ons woon in ‘n wêreld van oorsaak en gevolg, waar die wet van saai en maai in volle werking is. Sommige gevolge van sonde is ingebou en prakties gewaarborg, ongeag of die sondaar gered of ongered is. Die Bybel waarsku dat seksuele sedeloosheid ‘n sonde is wat teen ons eie liggaam gepleeg word (1 Kor 6:18). “Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark, sonder dat jou klere aan die brand raak?” (Spreuke 6:27). As jy iets steel, dan moet jy verwag dat jy gevang sou word en die natuurlike gevolge wat op diefstal volg, moet dra. Indien jy die arrestasie teenstaan as jy gevang word, kom daar nog meer gevolge. Saai en maai.
Leersame gevolge. Dit is baie duidelik dat God sommige gevolge van die sonde toelaat om in ons lewens te bly, om ons te leer van die grusame aard van sonde en om ons te herinner om van God se genade afhanklik te bly. Sonde is ‘n vir God ‘n probleem wat so baie erns inhou, in so ‘n mate, dat Hy Sy Seun in die wêreld gestuur het om te sterwe. Ons durf nie sonde ligtelik opneem nie. In die aangesig van sonde se gevolge, moet ons ons verneder en God se koninkryk soek en ook nog meer regverdigheid (Matt 6:33).
Toe Ananias en Safira vir hul sonde gedissiplineer was, was dit vir die kerk ook iets om te leer: “Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het, het baie bang geword” (Hand 5:11). Sien ook 1 Kor 5:5 en 1 Tim 1:20.
Dissiplinêre gevolge. Sommige gevolge is die manier hoe God ons behandel soos ‘n vader sy kinders sou dissiplineer. Daar is ‘n verskil tussen “straf” vir sonde en “dissipline” vir sonde. As God se kinders, ervaar ons dissipline wat ons op die regte pad moet terugbring. “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem” (Heb 12:5-6; Spreuke 3:11-12). Let op hoe baie van God se kinders ondergaan dissipline: “al die ander” (Heb 12:8). Ons is almal eiewys soms. God se doelwit om toe te laat dat ons dissiplinêre gevolge van sonde ervaar, is volmaak, eie aan Sy natuur: “Hy tug ons tot ons beswil, sodat ons in Sy heiligheid mag deel” (Heb 12:10).
Die kerk van Korinte is ‘n voorbeeld van Christene, wat dissiplinêre gevolge van hul sonde dra: deur op ‘n onwaardige manier deel te wees van die heilige Nagmaal, het hulle vir God mishaag: “Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle” (1 Kor 11:30). Ons sien soortgelyke dissiplinêre aksie in 2 Sam 12. Selfs nadat Dawid sy sonde bely het en vergeef is, het God sekere gevolge toegelaat wat op Dawid en sy huishouding gekom het (verse 11-14).
God laat toe dat ons sekere temporele (hier op aarde) gevolge van sonde dra, om Sy liefde vir ons te toon. Indien God nooit Sy verdwaalde kinders dissiplineer nie, sou Hy nie ‘n goeie Vader wees nie. As ons nooit gedissiplineer word nie of nooit onder die gevolge van ons verkeerde aksies ly nie, sou ons nooit die verskil tussen reg en verkeerd geleer het nie. Ons is geneig om meer graag uit ons foute te leer, as wat ons uit ons suksesse leer.
Prys die Here vir Sy goedheid. Hy laat ons toe om die “temporele” gevolge van sonde te ervaar (vir ons eie beswil). Hy red ons egter van die “ewige” gevolge van sonde. Jesus het die straf vir ons sondes betaal, sodat ons nooit die tweede dood sal beleef nie, wat die vuurpoel in die doderyk is (Openbaring 20:14). Aan gelowiges in Christus word beloof dat die vloek en die gevolge van sonde eendag volkome verwyder sal word en “Op My heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie” (Jes 11:9).
English
As Jesus die prys vir ons sondes betaal het, hoekom ly ons steeds aan die gevolge daarvan?