settings icon
share icon
Vraag

Hoekom is verlossing deur werke die oorheersende siening wat gehandhaaf word?

Antwoord


Die eenvoudige antwoord is dat verlossing deur werke reg lyk in die mens se oë. Een van die mens se basiese begeertes is om in beheer te wees van sy eie bestemming en dit sluit sy ewige bestemming in. Verlossing deur werke is aanloklik vir die mens se trots en sy begeerte om in beheer te wees. Om deur werke gered te word, is aanloklik vir daardie begeerte, by verreweg meer as die gedagte om deur geloof alleen gered te word. Ook het die mens ‘n inherente gevoel van geregtigheid. Selfs die vurigste ateïs glo in een of ander tipe geregtigheid en het ‘n gevoel van reg en verkeerd, selfs al het hy geen morele grondslag om sulke oordele te maak nie. Ons inherente sin vir reg en verkeerd vereis, dat as ons gered moet word, ons “goeie werke” swaarder moet weeg as ons “slegte werke.” Dus is dit natuurlik dat wanneer die mens ‘n godsdiens skep, dit een of ander tipe redding deur werke sou insluit.

Omdat verlossing deur werke aanloklik is vir die mens se sondige natuur, vorm dit die basis van feitlik elke godsdiens, behalwe vir bybelse Christelikheid. Spreuke 14:12 sê dat “Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” Verlossing deur werke lyk vir die mense reg, en dit is waarom hulle oorheersend hierdie siening huldig. Dit is presies hoekom bybelse Christelikheid so anders is as ander godsdienste – dit is die enigste godsdiens wat leer dat verlossing ‘n gawe van God is en nie van werke nie. “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie” (Ef 2:8-9).

‘n Ander rede hoekom verlossing deur werke die oorheersende siening is, is omdat die natuurlike of nie-wedergebore mens nie ten volle verstaan wat die strekking van sy eie sondigheid of van God se heiligheid is nie. Die mens se hart is “bedriegliker as enigiets anders” (Jer 17:9), en God is oneindig heilig (Jes 6:3). Die bedrieglikheid van ons harte is die hele oorsaak wat ons persepsie verdraai, rakende die omvang van daardie bedrieglikheid en dit weerhou ons daarvan om te sien wat ons werklike toestand voor God is, Wie se heiligheid ons nie by magte is om volledig te begryp nie. Maar die waarheid bly staan dat ons sondigheid en God se heiligheid, ons beste pogings soos “vuil klere” voor ‘n heilige God laat lyk (Jes 64:6; 6:1-5).

Die gedagte dat die mens se goeie werke sy slegte werke kan uitbalanseer, is ‘n totale onbybelse konsep. Nie slegs dit nie, maar die Bybel leer ook dat God se standaard niks minder as 100% perfeksie is nie. As ons struikel om slegs een deel van God se regverdige wet te hou, is ons so skuldig asof ons alles daarvan gebreek het (Jak 2:10). Dus is daar geen manier dat ons ooit gered kan word, as verlossing werklik afhanklik is van werke nie.

‘n Ander rede dat verlossing deur werke in denominasies kan inkruip, wat bely dat hulle Christelik is of sê hulle glo in die Bybel , is dat hulle gedeeltes soos Jak 2:24 verkeerd verstaan: “Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie op grond van sy geloof nie.” Deur die konteks van die volledige gedeelte van Jak 2:14-26 in ag te neem, raak dit duidelik dat Jakobus nie sê ons werke maak ons regverdig voor God nie; hy maak dit eerder duidelik dat ware verlossingsgeloof deur goeie werke gedemonstreer word. Die persoon wat beweer om ‘n Christen te wees, maar in opsetlike ongehoorsaamheid aan Christus lewe, het ‘n valse of “dooie” geloof en is nie gered nie. Jakobus maak ‘n kontras tussen twee verskillende tipes geloof – ware geloof wat red en valse geloof wat dood is.

Daar is eenvoudig té veel verse wat leer dat ons nie deur werke gered kan word nie, vir enige Christen om anders te glo. Titus 3:4-5 is een van die baie gedeeltes: “Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en Sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van Sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.” Goeie werke dra nie by tot verlossing nie, maar sal altyd ‘n kenmerk wees van iemand wat wedergebore is. Goeie werke is nie die oorsaak van verlossing nie; hulle is die getuienis/uitvloeisel daarvan. Verlossing deur werke mag die oorheersende siening wees, maar is nie ‘n akkurate bybelse een nie. Die Bybel bevat volop getuienis van redding uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen (Ef 2:8-9).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Hoekom is verlossing deur werke die oorheersende siening wat gehandhaaf word?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries