Vraag
Beïnvloed verlossing meer as net die lewe hiernamaals?
Antwoord
Ons plaas dikwels klem daarop hoe verlossing die lewe hiernamaals beïnvloed, maar laat na om daarop te wys hoe dit ons lewens hier en nou raak. Om na Christus te kom in geloof, is die lewe se keerpunt op so baie wyses – as ons eers gered is, is ons vrygemaak van sonde en kry ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe perspektief. Soos John Newton dit gestel het, “I once was lost but now am found, / Was blind but now I see.” Ná redding, verander alles.
In die Sendbriewe vind ons gedurig klemplasing op daaglikse lewe. Volgens Ef 2:10 is die rede waarom ons gered is, nie net om die ewigheid in die hemel deur te bring nie, maar “om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” Hierdie “goeie dade” moet hier gedoen word, in hierdie wêreld. As ons ewige verlossing nie in ons daaglikse lewens reflekteer nie, is daar ‘n probleem.
Jakobus het sy brief geskryf om ‘n toegepaste/praktiese geloof aan te moedig. Ons verlossing behoort sigbaar te wees in ‘n beheerste tong (Jak 1:26) en ander veranderinge in ons lewens. Geloof wat voorgee om te bestaan, sonder die bewys van goeie werke, is “dood” (Jak 2:20). Paulus het in 1 Tess 2:12 geskryf dat ons “tot eer van God” moet lewe. Hy wat ons “roep om in Sy heerlike koninkryk in te gaan.” ‘n Lewe wat aan God oorgegee is en gehoorsaam is aan Hom, is ‘n natuurlike uitspruitsel van verlossing. Jesus het geleer dat ons Sy dienaars is, hier geplaas om Sy werk voort te sit, onderwyl ons wag op Sy wederkoms (Luk 19:12-27).
In die boek van Openbaring stuur God briewe aan sewe kerke (Openbaring 2-3) en in elke geval is daar spesifieke areas van daaglikse leefwyse wat aangeprys of verdoem word. Die kerk van Efese word geprys vir hul arbeid en geduld en die kerk van Smirna was geprys vir geloofwaardigheid in beproewing en armoede. Aan die ander kant van die spektrum was die kerk van Perganum bestraf as gevolg van valse leringe wat hulle verdra het en die kerk van Tiatira was bestraf omdat hulle ‘n valse profetes gevolg het in seksuele sondes. Dit is duidelik dat Jesus verlossing beskou het as iets wat jou daaglikse lewe affekteer, nie slegs die lewe hiernamaals nie.
Verlossing is die beginpunt van ‘n nuwe lewe (2 Kor 5:17). God het die vermoë om te herstel en te herbou wat sonde verwoes het. In Joël 2:25 belowe God Israel dat, selfs alhoewel Hy straf oor hulle gebring het vir hul sondes, is Hy by magte om te “vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het,” toe Israel sonde bely en tot Hom teruggekeer het. ‘n Soortgelyke herstelproses is aan Israel beloof in Sagaria 10:6. Dit is nie te sê dat om gered te word, alles in hierdie lewe vrolik en probleemvry sal wees nie. Daar is tye dat God kies om ontbering toe te laat as ‘n herinnering van die hoë koste van sonde of ons nood om meer op Hom te moet vertrou. Maar daardie beproewinge staar ons in die gesig met ‘n nuwe uitkyk en sterkte van bo af. Trouens, die ontberinge wat ons verduur, is in werklikheid gawes van God wat ons help om te groei in geloof en ons toe te rus om vir ander tot seën te wees (2 Kor 1:4-6; 12:8-10). In Jesus se bediening was elkeen wat na Hom gekom het in geloof, vir altyd verander. Die besetene van Dekapolis het teruggekeer huis toe as ‘n evangelis (Mark 5:20). Melaatses het weer aangesluit in die samelewing, gereinig en vol blydskap (Luk 17:15-16). Vissermanne het apostels geraak (Matt 4:19), tollenaars het filantrope geword en sondaars het heiliges geraak (Luk 19:8-10). Deur geloof word ons gered (Ef 2:8) en die verandering wat verlossing bring, begin nou.
English
Beïnvloed verlossing meer as net die lewe hiernamaals?