settings icon
share icon
Vraag

Is dit nodig om die Evangelie volledig te verstaan om hemel toe te gaan? Is dit genoeg om dit te glo, selfs al verstaan ons nie alles nie?

Antwoord


In een sin saamgevat, is die Evangelie baie eenvoudig om te verstaan: “Jesus het gesterwe en weer opgestaan, sodat ons gered kan word.” Die basiese feite van die Evangelie is maklik om te begryp. Maar in ‘n ander sin is die Evangelieboodskap een van die diepste van goddelike waarhede wat ooit aan die mensdom geopenbaar is: “Jesus het gesterwe en weer opgestaan, sodat ons gered kan word.” Die implikasies van daardie feite en die onderliggende teologie van God is diepgaande genoeg om selfs die slimste teoloë vir ‘n leeftyd besig te hou met oordenking. As dit kom by verlossing, hoe deeglik moet die begrip wees wat nodig is, voordat geloof werklik “geloof” genoem kan word?

Dit is onbetwisbaar dat verlossende geloof ‘n sekere mate van begrip insluit. Daardie begrip word moontlik gemaak deur die prediking van die Evangelie (Matt 28:18-20), en daarmee saam gaan die werk van die Heilige Gees in die hart (Hand 16:14). Paulus skets die proses wat lei tot ‘n behoorlike verstaan van die Evangelie as volg: prediking, wat lei tot hoor, wat lei tot glo, wat lei tot uitroep na die Here vir verlossing (Rom 10:14). Die “hoor” impliseer verstaan daarvan; indien die prediking nie verstaan is nie, dan is dit ook nie werklik “gehoor” nie.

Die inhoud van die prediking wat verstaan moet word, is die evangelie. Van heel die begin af , plaas die apostels se boodskap die klem op die dood en opstanding van Christus (Hand 2:23-24). Hierdie boodskap is die belangrikste: dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrif, dat Hy begrawe was, dat Hy opgestaan het op die derde dag volgens die Skrif en dat Hy verskyn het aan Sefas en toe aan die Twaalf” (1 Kor 15:3-4). Hierdie gedeelte bevat die basiese elemente van die evangelie, wat sentreer rondom die Persoon en werk van Christus: Jesus het vir ons sondes gesterf, en Hy het opgestaan uit die dood. Niemand word gered, sonder ‘n verstaan van hierdie waarheid nie – en ‘n vertroue daarin nie.

Elke faset van die evangelie is belangrik. Indien ons nie verstaan dat Jesus die volmaakte Seun van God is nie, dan is Sy dood van geen rekenskap, in so verre dit ons verlossing aangaan nie. As ons nie verstaan dat Jesus gesterf het nie, dan is dit logies dat ons nie die opstanding sal verstaan nie. As ons nie die rede kan verstaan dat Hy gesterf het vir ons sondes nie, kan ons onsself as onskuldig bestempel en dat ons geen Verlosser benodig nie. As ons nie verstaan dat Jesus weer opgestaan het nie, dan mis ons die feit van ‘n lewende Verlosser en ons geloof is dood (1 Kor 15:17).

Die Bybel gee voorbeelde van hulle wat ‘n sekere hoeveelheid geestelike kennis verkry het, maar steeds ongered was. Dit was nadat hulle die wesenlike van die evangelie verstaan het, dat hierdie individue in Christus begin glo het en wedergebore was. Die Ethiopiese ontmande (Hand 8:26-39), Kornelius (Hand 10), Apollos (Hand 18:24-28) en die twaalf manne in Efese (Hand 19:1-7) het almal godsdienstige agtergronde gehad, maar die oomblik van verlossing het eers gekom toe hulle hul geloof in Christus gestel het – en hulle moes eers die inhoud van die evangelie hoor en verstaan.

Om dus gered te word, is dit nie nodig om alles in die evangelie te verstaan nie. Om die volheid van die evangelie te verstaan is tog onmoontlik, hier en nou, maar ons streef om meer te weet, “Mag julle Sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan” (Ef 3:19). Maar ons sal nooit volledig die rykdom van God se genade verstaan nie: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele, hoe onnaspeurlik Sy weë! (Rom 11:33).

Byvoorbeeld, ons hoef nie die hipostatiese eenheid (dat Jesus Christus volledig God en volledig mens is) te verstaan om gered te wees nie. Om die definisie van “versoening” te ken, is nie nodig vir redding nie. Ook nie kennis van regverdiging, verlossing/vrymaking of progressiewe heiligmaking is nodig om die hemel binne te gaan nie. Kennis hiervan kom met tyd en die bestudering van die Woord, maar al hierdie kennis is nie aanvanklik nodig, om by redding uit te kom nie. Dit is twyfelagtig of die man aan die kruis veel verstaan het van soteriologie, toe hy na die Here gedraai het en gesê het, “Jesus, dink aan my wanneer U in U koninkryk kom” (Luk 23:42).

Die evangelieboodskap is eenvoudig genoeg vir ‘n kind om te verstaan. Jesus het verklaar dat verlossing beskikbaar is vir die kleintjies: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle” (Mark 10:14). Prys die Here, die evangelie van Jesus Christus kan deur kinders verstaan word. Ook hulle wat verstandelik nie die vermoë het om die evangelie te verstaan nie, glo ons, dat God ook Sy genade oor hulle uitsprei.

Dus, om hemel toe te gaan, moet ons “glo in die Here Jesus Christus” (Hand 16:31). Dit beteken dat ons glo in die offerande van die Heilige Seun van God, wat in ons plek aan die kruis gesterf het en weer die derde dag opgestaan het. Aan hulle wat glo in die Naam van Jesus, gee God die reg om kinders van God te word (Joh 1:12). Die evangelie is so eenvoudig en so diepgaande soos dit.

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is dit nodig om die Evangelie volledig te verstaan om hemel toe te gaan? Is dit genoeg om dit te glo, selfs al verstaan ons nie alles nie?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries