Vraag
Wat is voorwaardelike sekuriteit?
Antwoord
“Voorwaardelike sekuriteit” is ‘n teologiese term wat gebruik word as verwysing na die verlossing van gelowiges in Jesus Christus. Dit beskryf die voortdurende kwaliteit van die Christen se verlossing. Met ander woorde, ‘n Christen se verlossing is “voorwaardelik verseker.” Dit lei na die vraag: op grond van watter voorwaarde is die gelowige se verlossing verseker? Voorstanders van voorwaardelike sekuriteit beweer dat die verlossing voorwaardelik is, ten opsigte van die feit om getrou te bly tot die bittereinde. Om ‘n analoog te gebruik wat die Bybel gebruik, die atleet moet die wedloop voltooi om sodoende die prys te ontvang. Diegene wat die leerstelling van voorwaardelike sekuriteit navolg, gebruik as steun sulke bybelse gedeeltes soos die volgende:
“Daar sal baie vals profete kom en hulle sal baie mense mislei. Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.” (Matt 24:11-13).
“Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” (Rom 8:12-14).
“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.” (1 Kor 15:1-2).
“Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.” (Gal 6:7-9).
Hierdie gedeeltes en ander wys na die voorwaardelike kwaliteit van die gelowige se redding. In elkeen van hierdie gedeeltes, gebruik die bybelse outeur (onder die inspirasie van die Heilige Gees) voorwaardelike taal (bv. as julle nie verslap nie, dan sal julle gered word) om die natuur van die gelowige se waarborg in Christus na vore te bring. Om sodoende die sekuriteit van ons redding te verseker, moet die gelowige: 1) volhard tot die einde; 2) lewe deur die Gees; 3) vashou aan die gepredikte Woord; en 4) saai in die Gees. Dit is nie asof die gawe van verlossing tekortskiet op enige manier nie, maar die individuele gelowige moet ernstig strewe om getrou te bly. In Paulus se woorde, “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” (Fil 2:12).
Gegewe aan die gewig wat die bybelse getuienis dra, sou dit voorkom asof die siening aangaande voorwaardelike sekerheid onweerlegbaar is. Hoe kon enigeen redeneer oor die idee dat die gelowige getrou moet bly tot die einde om sy verlossing te verseker? Tog, is daar ‘n ander kant t.o.v. hierdie debat. Dit is die eeu-oue teologiese debat tussen Arminiane (hulle wat voorwaardelike sekuriteit aanhang) en Calviniste (hulle wat sogenaamde “ewige” sekuriteit of volharding van die heiliges aanhang). Waar die Arminiane dosyne bybelse gedeeltes kan aanhaal, wat dui op die gelowige se voorwaardelike sekuriteit, kan die Calviniste verwys na ‘n gelyke hoeveelheid bybelse gedeeltes om die siening van die ewige sekuriteit te steun, soos die volgende:
“Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.” (Matt 24:24).
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom 8:38-39).
“Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie.” (Joh 10:28-29).
“Deur Christus het julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons Sy grootheid prys.” (Ef 1:13-14).
Baie meer gedeeltes kan by hierdie lys gevoeg word, wat die ewige sekuriteit van die opregte volgeling van Christus staaf. Vir elk van die bg. gedeeltes, staan een ding uit – die ewige sekerheid van die gelowige het niks te make met die individuele poging van die gelowige nie, maar die behoudende genade van God, waar die gedeeltes wat voorwaardelike sekuriteit steun lyk asof hulle fokus op die gelowige se vermoë om getrou te bly.
Wat staan ons te doen met al hierdie inligting? Leer die Bybel ons van beide voorwaardelike en ewige sekuriteit? Die antwoord is “nee.” Tog moet ons die vermoë besit om die gedeeltes te versoen met mekaar, wat praat van die gelowige wat getrou bly, met die gedeeltes wat praat van God wat die gelowige tot die einde in Sy beskerming hou. Die antwoord lê in die Doktrines van Genade, soos die teoloë daarna verwys. Die Doktrines van Genade word ook alternatiewelik die Vyf Stellings van Calvinisme genoem (‘n foutiewe benaming, aangesien Calvyn nooit net “vyf stellings” uitgespreek het nie). Hier volg kortliks die Doktrines van Genade:
Totale Verdorwenheid: As gevolg van oorspronklike/oorerflike sonde, is die mens deur en deur korrup gebore en onbekwaam is om enigiets te doen wat God vreugde gee, of soekend na God is.
Onvoorwaardelike Uitverkiesing: As gevolg van die mens se verdorwenheid, moet God intree om die verlossing van die gelowige te verseker. God doen dit deur hom onvoorwaardelik uit te kies om velos te wees (dus, dra die mens niks by nie).
Beperkte Versoening: Om sodoende hulle te ontvang wat God uitverkies het tot redding, moet versoening gemaak word, om so God se regverdige oordeel oor hul sonde te bevredig. God doen dit deur die offerande van Sy Seun, Jesus Christus.
Onweerstaanbare Genade: God pas die meriete van hierdie verlossing op die “regte tyd” toe, deur Sy uitverkorene op onweerstaanbare wyse na Hom toe te trek deur die wedergebore krag van die Heilige Gees. Dit word bereik deur die verkondiging van die evangelie.
Volharding van die Heiliges: Die verlossing wat God gebring het vir gelowiges word tot die einde deurgedra, soos God Sy uitverkorenes bewaar en heilig maak tot die einde kom.
Om te evalueer of die gelowige se verlossing voorwaardelik of ewiglik verseker is of nie, moet ons eerstens met die voorafgaande vyf stellings van die Doktrine van Genade handel. Volharding van die heiliges is nie ‘n alleenstaande doktrine nie, maar berus op die ander vier stellings. Die fondasie van die DvG is die eerste stelling, totale verdorwenheid, wat, indien dit waar is, die ander vier stellings noodwendig moet opvolg. Die Bybel leer ons ondubbelsinnig dat die mens op sy eie heeltemal onbevoeg is om na God te kom vir sy verlossing (Matt 19:25-26; Joh 6:44; Rom 3:10-18).
Kritici van Calvinisme en die Doktrines van Genade wil beweer dat, as ons hierdie doktrines onderrig, sal heiligheid en vroomheid verlore gaan. Met ander woorde, as verlossing ewiglike sekuriteit bied, wat hou ‘n gelowige terug om uit eie wil te sondig? Die apostel Paulus het dieselfde vraag in Rom 6:1 gevra. Paulus se antwoord was dat sonde nie versoenbaar is met die nuwe lewe in Christus nie (Rom 6:2-4). Ver weg geskei van die aanhang van ‘n lisensie t.o.v. sonde, doen die Doktrines van Genade eintlik meer om die Christelike vroomheid te verkondig, as die doktrine van voorwaardelike sekuriteit. Die Puriteine, bekend vir hul vroomheid en streng toegewydheid t.o.v. ‘n heilige lewe, was oorheersend Calviniste. In die Doktrines van Genade, word vroomheid gesien as die dankbare antwoord van die gelowige vir God se wonderlike genade in verlossing (Rom 12:1-2). Hierdie doktrines, indien nagekom en reg geglo, dien as die werke wat ons doen in antwoord op ware liefde teenoor ons genadige God, wat ons genoeg liefgehad het om ons te red van ons sonde en ellende. Die Heidelbergse Kategisme (een van die vroegste belydende dokumente van die Protestantse Hervorming en ‘n leerhulpmiddel vir kinders en nuwe gelowiges) is in 3 gedeeltes opgebreek: Die Ellende van die Mens (ons sondige toestand); Die Mens se Vrymaking (God se genadige handeling van verlossing deur Jesus Christus); en Dankbaarheid (ons antwoord op God se genade, wat ook ons plig as Christene uiteensit).
As ons dus die voorafgaande bepaling dat die Doktrines van Genade waar is (bybels is) aanvaar, hoe versoen ons dit met al daardie gedeeltes wat lyk asof dit voorwaardelike sekuriteit verkondig? Die kort antwoord hierop is dat ons (gelowiges) volhard (gelowig bly tot die einde), omdat God ons bewaar. Om dit anders te stel, as ons niks doen om verlossing te verkry of te verdien nie (verlossing is ‘n gratis geskenk van God se genade), hoe kan ons dan redding verloor? Voorwaardelike sekuriteit is slegs aanvaarbaar vir hulle wat glo dat hulle op een of ander wyse bydra tot hul verlossing in die eerste plek (wat Arminiaanse teologie logies impliseer). Maar dit weerspreek sulke gedeeltes soos Ef 2:8-9: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie,” wat duidelik sê dat ons absoluut niks bydra tot ons redding nie; selfs die geloof wat nodig is om die geskenk van genade te aanvaar, dit op sigself is ‘n geskenk van God.
Arminianisme gee aan die mens ‘n rede om trots te wees aan die einde. As deur my samewerking met die Gees van God, maak dat ek getrou bly tot die einde, kan ek trots voel (‘n klein bietjie) oor hoe ek in staat was om op die baan te bly en die wedloop te voltooi. Daar sal egter geen trotsheid/roem in die hemel wees nie, behalwe om in die Here te roem (1 Kor 1:31). Die doktrine van voorwaardelike sekuriteit is nie bybels nie, die Bybel is baie duidelik daaroor dat ons volhard, omdat God ons bewaar.
English
Wat is voorwaardelike sekuriteit?