settings icon
share icon
Vraag

Is ewige sekuriteit ‘n “lisensie” om sonde te pleeg?

Antwoord


Kom ons verduidelik eers hierdie konsep van “ewige sekuriteit” - dit is die leerstelling dat as jy gered word dan is jou redding vir altyd geldig en word dit beskerm. Die mees algemene teenkanting teen die leerstelling van ewige sekuriteit is dat hierdie impliseer mense kan sondig net so veel as wat hulle wil maar nog steeds gered wees. Alhoewel hierdie stelling “tegnies” korrek is, is dit nie wat wel gebeur nie. ‘n Persoon wat werklik gered is in Jesus Christus sal nie ‘n lewe kan lei wat gekenmerk word deur aanhoudende en moedswillige sonde nie.

Dit is nou belangrik dat ons duidelikheid kry tussen - hoe ‘n Christen moet lewe en - wat gedoen moet word om gered te word. Die Bybel vertel ons tog duidelik dat redding alleenlik deur genade ontvang word en deurdat ons in Jesus Christus glo (Johannes 3:16; Efesiërs 2:8-9; Johannes 14:6). Die oomblik wanneer ‘n persoon werklik en opreg in Jesus Christus glo, word hy of sy gered en daardie redding is dan vir ewig en word dit ook “beskerm”. Redding word nie deur geloof ontvang en deur ons eie vermoë beskerm of dan wel deur ons eie werke instand gehou nie. Die apostel Paulus behandel hierdie aspek in Galasiërs 3:3 wanneer hy vra, “Hoe kan julle so dwaas wees? Wil julle dit wat die Gees in julle begin het, nou uit eie krag probeer klaarmaak”? As ons deur geloof gered word, word hierdie redding ook onderhou deur geloof. Ons kan nie ons eie redding verdien of bewerkstellig nie. Daarom is die “onderhoud” of “hou” van ons redding nie ons eie toedoen nie. Dit is God wat ons redding onderhou en dit verseker (Judas 24). Dit is God se hande wat ons veilig in Sy greep hou (Johannes 10:28-29). Dit is God se liefde wat verseker dat ons nooit van Hom geskei kan word nie (Romeine 8:38-39).

Verwerping van, of ongeloof in, ewige sekuriteit beteken dat ons eie vermoë ons redding beskerm. Hierdie denkwyse is geheel en al in teenstelling met die feit dat ons slegs gered word deur die genade van God. Ons moet ook verstaan dat ons redding deur Jesus se toedoen is en nie ons eie nie (Romeine 4:3-8). Indien ons redeneer dat ons aan God se Woord gehoorsaam moet wees en ‘n goddelike lewe moet lei en daardeur sal ons, ons redding kan handhaaf of in stand sal hou is om te sê dat Jesus se dood nie genoeg was om vir ons sondes te betaal nie. Ons moet besef dat Jesus se dood absoluut voldoende was om vir al ons sondes te betaal – sondes in die verlede, huidige sondes en toekomstige sonde, beide die sonde voor en na ons redding / verlossing (Romeine 5:8; 1 Korintiërs 15:3; 2 Korintiërs 5:21).

Beteken dit dan dat ons kan lewe net soos ons wil en nog steeds gered wees? Hierdie is ‘n hipotetiese vraag want die Bybel maak dit duidelik dat ‘n ware Christen nie lewe soos hy of sy wil nie. Christene word nuut gebore en is ‘n nuwe skepping (2 Korintiërs 5:17). Christene word herken aan die vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22-23) en nie deur handelswyse van die vlees nie (Galasiërs 5:19-21). Een Johannes 3:6-9 sê tog duidelik dat ‘n Christen nie ‘n lewe van doelbewuste sonde sal lei nie. Paulus verduidelik dat God se genade nie sondes kan aanmoedig nie “Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloedig kan word? Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!” (Romeine 6:1-2).

Ewige sekuriteit is geensins ‘n lisensie om sonde te pleeg nie. Hierdie sekuriteit van ons redding is om te weet dat God se liefde is gewaarborg vir die wat op Jesus vertrou. Om bewus te wees van God se genadegeskenk van redding en om dit te verstaan veroorsaak presies die teenoorgestelde as ‘n lisensie om te sondig. Hoe kan enige iemand wat werklik besef en verstaan wat Jesus vir ons gedoen, wat wardeering het vir die prys wat Jesus vir ons betaal het, dan nog voortlewe in sonde? (Romeine 6:15-23). Hoe kan enige iemand wat God se onvoorwaardelike en gewaarborgte liefde verstaan, dan God se liefde verwerp deur te sondig? Sulke aksies, om te sondig, bewys mos dat hy of sy nie werklik gered was nie. “Elkeen wat in ‘n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook ook nie ‘n begrip van Hom nie” (1 Johannes 3:6).

English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Is ewige sekuriteit ‘n “lisensie” om sonde te pleeg?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries