settings icon
share icon
Vraag

Wie is ek in Christus?

Antwoord


2 Kor 5:17 sê, “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Daar is twee Griekse woorde vir “nuwe” in die Bybel. Die eerste is “neos” en dit verwys na iets wat so pas gemaak is, maar daar is reeds baie ander van dieselfde soort, wat reeds bestaan. In hierdie vers word die woord “kainos” gebruik en dit beteken “iets wat so pas gemaak is, maar heeltemal anders is as enigiets wat reeds bestaan.” In Christus word ons ‘n heeltemal nuwe skepsel, netsoos God aanvanklik die hemel en die aarde geskep het – Hy het hulle uit niks geskep en so maak Hy met ons ook. Hy maak nie net die ou mens skoon nie; Hy maak ‘n totale nuwe “ek”. As ons in Christus is, is ons deel van die “Goddelike natuur” (2 Pet 1:4). God self, in die persoon van Sy Heilige Gees, maak woning in ons harte. Ons is in Christus en Hy is in ons.

In Christus is ons herskep, wedergebore en nuutgemaak en hierdie nuwe skepsel is geestelik van natuur, terwyl die ou mens sterflik is. Die nuwe natuur is in verhouding met God, gehoorsaam Sy wil en wy homself aan Sy diens. Hierdie dinge kan die ou natuur nie doen of selfs begeer om te doen nie. Die ou natuur is dood vir die geestelike dinge en kan nie self herlewe nie. Dit is “dood as gevolg van julle oortredings” (Ef 2:1) en kan slegs lewend gemaak word deur ‘n bonatuurlike opwekking, wat gebeur wanneer ons na Christus toe kom en ons een met Hom word. Christus gee vir ons ‘n totale nuwe en heilige natuur en ‘n onverganklike lewe. Ons ou lewe, wat voorheen vir God dood was, as gevolg van die sonde, is begrawe en ons is opgewek, dat “ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei”, saam met Hom (Rom 6:4).

Wanneer ons aan Christus behoort, is ons met Hom verenig en nie langer meer slawe van die sonde nie (Rom 6:5-6); ons is lewend gemaak saam met hom (Ef 2:5); ons is gelykvormig aan Sy beeld (Rom 8:29); ons is vry van veroordeling en handel nie volgens die vleeslike dinge nie, maar die geestelike (Rom 8:1); en ons is deel van die liggaam van Christus, saam met ander gelowiges (Rom 12:5). Die gelowige besit nou ‘n nuwe hart (Eseg 11:19) en is “geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef 1:3).

Ons wonder soms waarom ons nie lewe soos vir ons voorgeskryf is nie, al het ons ons lewens aan Christus gegee en seker van ons verlossing is. Dit is omdat ons ou natuur in ons ou vleeslike liggame vertoef en daardie twee in oorlog met mekaar is. Die ou natuur is dood, maar die nuwe natuur veg nog steeds met die ou “tentwoning”, waarin dit gesetel is. Die bose en sonde is steeds teenwoordig, maar die gelowige sien hulle nou in ‘n nuwe perspektief en hulle kan hom nie langer meer beheer soos vantevore nie. In Christus kan ons nou kies om sonde teen te staan, waar die ou natuur dit nie kon doen nie. Nou het ons die keuse om die nuwe natuur deur die Woord, gebed en gehoorsaamheid te voed of om die vlees te voed, deur daardie dinge na te laat en nie te doen nie.

Wanneer ons in Christus is, “is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom 8:37) en kan ons ons verbly in ons Verlosser, wat alle dinge moontlik maak (Fil 4:13). In Christus is ons geliefd, vergewe en geborge (veilig bewaar). In Christus is ons aangeneem geregverdig, vrygekoop, versoen en uitgekies. In Christus is ons oorwinnaars, gevul met blydskap en vrede, en het die lewe ware betekenis. Wat ‘n wonderlike Verlosser is Christus nie! English



Terug na die Afrikaanse tuisblad

Wie is ek in Christus?
Deel hierdie bladsy: Facebook icon Twitter icon Pinterest icon Email icon
© Copyright Got Questions Ministries